Jy is Myne [resensie]
top of page

Jy is Myne [resensie]


Nina Smit. Jy is Myne. Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. Jes. 43:1. CUM. 2015

Een van die mees sinvolle geskenke om vir ‘n belangrike vrou in jou lewe soos jou ma, eggenote, suster of vriendin te gee, is ‘n Bybelse dagboek. Want op hierdie manier dra jy by tot die persoon se geestelike lewenskwaliteit vir ‘n volle jaar. En wat kan ‘n beter geskenk wees oor Kerstyd as ‘n boek wat heeljaar die persoon aan Jesus Christus gaan voorstel!

En Nina Smit is een van die bekendste, en mees gewilde skrywers van dagboeke. Met reg, want sy het die gawe om met min woorde baie te sê. Haar skryfstyl is gemaklik en op die man af, En sy gebruik voortdurend voorbeelde uit die alledaagse lewe om waarhede te demonstreer.

Elke dagstukkie het ‘n Skrifverwysing as inleiding, ‘n teksvers en ‘n bespreking wat in grootdruk aangebied word om dit gemaklik te maak om te lees. En dit sluit met ‘n kort gebed.

Die oorhoofse tema kom uit Jesaja 43: jy is vir my baie kosbaar en Ek het jou baie lief. Daarom het Ek jou by jou naam geroep, om aan te toon dat jy aan My behoort.

Dit impliseer dat die Here hoor wanneer jy bid. Hy gee soveel vir jou om dat Hy direk by jou lewe betrokke is. En Hy praat terug wanneer sy kinders met Hom praat. Hy sien jou raak want jy is kosbaar vir Hom.

Hieruit ontwikkel Nina dan verskeie temas, soos: God het ‘n doel vir jou lewe, sy wil vir jou lewe is die beste wat in jou lewe kan gebeur. Jy mag tevrede lewe want Hy is genoeg vir jou. Selfs in swaarkrytye is daar genade, genoeg vir elke dag. Wat belangrik is, is dat jy jou oog op Hom gevestig hou, dat jy jou lewe en hart vul met verwondering oor sy groot liefde en genade.

Die dagboek bevestig dat die Here jou lewe elke dag met sy teenwoordigheid wil vul, wat jou beskerm en deurdra.

Hier het jy ‘n pragtige hardebandboek teen ‘n billike prys wat mooi op die oog en in die hand is, puik versorg is, goed geskryf is en vol lewenswysheid vir elke dag. ‘n Ideale geskenk vir iemand spesiaal, so aan die begin van die jaar!


bottom of page