top of page

Kan genade opraak?


Ek onthou een gesprek toe ek nog ’n gemeenteleraar was. ’n Ontstelde gemeentelid het vir my kom vertel hy was op pad om sy kind te gaan regsien. “Hoekom?” wou ek weet. Toe vertel hy die bevelvoerder van ’n weermagbasis het hom gebel het en hom aangesê om sy kind te kom haal wat "anders" is.

“My geduld met daardie kind is op,” het hy vir my gesê. “Ek het hom genoeg kanse gegee om sy lewe reg te ruk… Nou gaan ek dit in hom infoeter!”

”Jy gaan niks van daardie soort doen nie," het ek vinnig geantwoord. “Skree op my en slaan my, maar as jy jou kind gaan haal, dan doen jy dit soos die verlore seun se pa."

Hy en ekself was vir ’n oomblik geskok. Want hy was ’n “gesiene kerkmens” en ek die jong domineetjie wat nog nie golwe gemaak het nie.

“Genade raak nie op nie,” het ek die stilte deurbreek. “Nie aan hierdie kant van die graf nie… As God bereid is om sy oordeel tot die allerlaaste toe uit te skuif, dan moet jy en ek dieselfde doen. Dan moet ons vir mekaar genadig wees.”

“Te duiwel daarmee. My kind sleep my naam deur die modder.”

“Ek beloof ek sal al die modder van jou lyf afspuit. En van jou naam af. Maar nou het jou kind ’n pa nodig, nie ’n bokser nie. Gaan wees dit vir hom, soos die Verlore Seun se pa, bedoel ek!"

Een ding wat ons nooit mag doen nie, is om mekaar af te skryf as ons van mekaar verskil. Of as ons mekaar teleurstel. Ja, ons mag nooit die waarheid laat val nie. Maar as ons idee die waarheid maak dat ons mekaar sommer net so kan verloor, dan mis ons die waarheid … Nog erger, dan mis ons genade! Immers, as die pa van die verlore seun daar in Lukas 15 bereid was om daardie einste kind wat hom prakties dood verklaar het terug te vat, dan moet ons dit ook met mekaar doen. By God is genade altyd die hoofroete. En dit gebeur in verhoudings, van in-huis tot op-pad saam met Jesus. Waarheid wat nie die toets van sy soort verhoudings kan deurstaan nie, is dooie waarheid.


bottom of page