top of page

Is daar iets soos weggee-uitbranding?


“Ek’s moeg om te hoor ek moet weggee,” sê iemand. “Ek dink al ek ly aan weggee-uitbranding,” gaan hy voort. “Hoekom? Gee jy te veel weg?” vra my vriend. “Ek gee my tiende,” sê hy. “Hoe lank vat dit jou elke maand om jou tiende te gee?” wil my vriend weet. “Nee, ek doen dit met ’n debiet order,” antwoord hy. “En dit laat jou ly aan weggee-uitbranding? sê-vra my vriend verbaas. “Ja, almal wil net nog hê, en dan mors hulle alles uit,” antwoord hy. “Plek-plek is dalk dit so, maar mense se verkeerde motiewe beteken nie jy moet ophou doen wat God van jou vra nie.” reageer hy.

As weggee ons vermoei, dan is dit omdat ons nie begryp dat die hart van die evangelie op vrygewigheid gebou is nie. In 2 Korintiërs 8:9 skryf Paulus dat Christus wat ryk was om ons onthalwe arm geword het sodat ons ryk kan wees in vrygewigheid. Die Here se mense is vrygewig. Altyd. Orals. Dit kan nie anders nie, want Christus het Homself aanhoudend gegee vir mense. As ons nie dieselfde doen met ons lewe, tyd, kragte, geld, gebede, vriendskap en ons naasteliefde, nie, dan kort ons dringend Christus se hart.


bottom of page