top of page
  • deur Stephan Joubert

God hou van diere, ons moet ook!


Deuteronomium 22:6-7 bied ’n verrassende kyk op God se hart. Hier word vir die Israeliete gesê dat hulle nie voëlneste mag plunder terwyl ’n ma op haar eiers sit nie. Ten minste moet sy toegelaat word om weg te vlieg. Vers 7 voeg by dat dit goed sal gaan met diegene wat hierdie voorskrif gehoorsaam. Hulle sal ’n lang lewe geniet. Kan jy dit oorvertel! God se gedetailleerde versorging van sy skepping is so sterk in die fokus hier. Die Here kan dit nie vat dat mense links en regs sy skepping plunder en verwoes nie. Nie net renosters nie, maar ook voëls maak vir Hom saak. So ook honde, katte, en al die ander diere. Ons godsdiens moet daarom ook skeppingsdiens insluit. Dit is ons roeping om God se skepping te help oppas. Van daardie heel eerste oomblik af dat God mense gemaak het, was dit die geval. Nie eens Adam en Eva se droogmaak-episode daar in Genesis 3 het dit opgehef nie. Ons kan nie wegkyk as selfs die kleinste diertjies verwaarloos word nie. Of as waterbronne besoedel word, en die skepping vergiftig word met koolstofdioksied nie. God verwag van ons om sy skepping sommer vandag nog te beskerm op elke manier wat ons kan.


bottom of page