top of page
  • deur Milanie Vosloo

As jou liefde verwerp word


Jakob het by Ragel geslaap en hy was baie lief vir haar. Hy het haar liewer gehad as vir Lea. Genesis 29:30a

Om nie deur ander aanvaar te word nie is van kleins af een van die dinge wat ons kinderharte stukkend maak. Nog erger word hierdie behoefte aan aanvaarding wanneer ons tieners is en dit vreeslik baie saak maak wat ons maats van ons dink en sê. Wanneer ons die dag vir iemand baie lief is en deur daardie persoon “eenkant” toe geskuif word, breek ons hart in ‘n duisend stukke en neem dit baie lank voordat ons as heel mens kan liefhê.

Gister het ons gelees hoe Jakob sewe jaar vir die liefde van sy lewe, Ragel, gewerk het, en toe sy suster, Lea, gekry het. Hy moes toe nog sewe jaar lank vir Ragel ook werk! En natuurlik was hy liewer vir haar as vir haar suster. Arme Lea het dit geweet en het probeer om Jakob se guns te wen deur vir hom die een kind na die ander te gee. Niks kon egter sy hart verander nie. Tot op die einde was Ragel dié vrou in sy lewe.

As jy dalk ook stoei met die bitter smaak van verwerping, wil ek jou aanmoedig om jou hart uit voor die Man wie se liefde tweeduisend jaar gelede, en vandag steeds, keer op keer verwerp word. Hy is by uitstek ‘n omgee-God vir eenkant gestoote mense!

Vandag lê ek my verstoot-voel-seer voor U troon. U sal weet wat om daarmee te doen, Here.

Net soos jy is – uitgegee deur CUM


bottom of page