top of page
deur Marius Nel

No more faking fine [resensie]


Esther Fleece. No more faking fine: Ending the pretending. Foreword by Louie & Shelley Giglio. Zondervan. 2016

Esther Fleece is ‘n kenner van die postmoderne situasie met sy millenials maar ook hoe dit geloof raak. As spreker en skrywer kom sy dikwels by die moderne gesin se situasie uit en gesels sy ook graag oor leierskap.

Teen dié agtergrond skryf sy in No more faking fine oor die noodsaak dat ‘n mens dikwels moet voorgee dat jy iets is wat jy weet jy nie is nie, bloot om ons hond-eet-hond wêreld te oorleef. Jy durf waag nie om jou hart oop te maak nie omdat jy die dure les kan leer dat ander die inligting teen jou gebruik, of jou storie die wêreld vol vertel. Jy praat oor jou teleurstelling en seer en moet dan agterkom dat die ander mens nie geluister het nie, of met maklike oplossings en cliché’s vorendag kom. En dan besef jy jy moet dit maar self probeer verwerk – ignoreer dit of probeer die pyn wegbid.

Wanneer jy pynlike emosies wegbêre wat uit jou verlede by jou spook en jou wêreld soms in grou kleure verf, kan jy gewoon nooit daarvan gesond word nie. Jou vinnige pad van sukses wat jou weerhou om daarmee te handel, kan dan die afdraende pad na onder word.

Esther gee jou in haar boek die toestemming om ‘n klaaglied te sing. Om jou seer en swaarkry, teleurstelling en gevoelens van mislukking onder woorde te bring en na buite te bring, selfs al loop jy al hoe lank daarmee in jou binneste toegesluit. Sy mag praat want sy praat vanuit die ervaring van haar eie lewe, van haar eie seerkry. Maar sy praat ook met gesag want sy het, met die Bybel in die hand as riglyn, die pad na genesing suksesvol voltooi.

Sy leer jou hoe om God se taal te gebruik sodat jy naby aan Hom ervaar hoe Hy jou heelmaak en jou uit die duisternis na die helder lig van sy plan en doel vir jou lewe lei.

In hulle voorwoord skryf die bekende Giglio-egpaar dat God nie ons pyn vergeestelik nie maar dit verstaan. Hy weet wat dit beteken om in die nag te huil maar terselfdertyd moedig hy jou aan met die verwagting dat die nuwe môre vreugde gaan bring (Psalm 30:5). Daar is ‘n seisoen vir klaagliedere, maar dit gaan verby. En die klaaglied is die enigste pad wat jou by die helder toekoms gaan uitbring.

Dié boek raak ‘n mens diep met die verhaal van ‘n vrou se intense pyn, maar ook die hoop dat genesing deel van die Here se plan vir elke mens is.


bottom of page