top of page
deur Marius Nel

Everything is possible [resensie]


Jen Bricker. Everything is possible: Finding the faith & courage to follow your dreams. Foreword by Nick Vujicic. BakerBooks. 2016

Jen is sonder bene gebore. Haar ma het haar weggegee. In haar nuwe huis as aanneemkind het sy onvoorwaardelike liefde en aanvaarding gevind. Daar was slegs een reël in die huis: Jy sê nooit jy kan nie! En dit het sy kort voor lank ook reggekry. Sy het sonder bene leer skaats, volleybal speel, en enigiets gedoen waarop sy haar hart gesit het.

Everything is possible is haar ongelooflike storie van moed, maar ook van die Here wat in haar lewe betrokke is en sy plan ontvou met haar lewe. Sy glo nie in toeval nie; wat in haar lewe gebeur het, maak net te veel sin. En sy glo nie dat daar iets is jy nie kan doen nie, mits jy jou hele hart daarop sit.

In sy voorwoord skryf Nick Vujicic dat hy van die eerste dag dat hy Jen ontmoet het, tot haar lewensfilosofie aangetrokke gevoel het. Sy glo: droom groot; omhels wat God vir jou gegee het; bring lig waar daar skadukolle is; versprei hoop, geloof, liefde en vrede waar jy ook al gaan. Albei van hulle beskou hulle gestremdheid as geleenthede vir God om in en deur hulle te werk.

Vandag is sy ‘n sirkusartieste wat internasionaal saam met Britney Spears’s Circus Tour reis en gehore verwonder laat oor hoe rats sy op die sweefstok is. En buiten dat sy tuis in die lug is, is sy ook ‘n bekende outeur en motiveringspreker wat regoor Amerika groot gehore trek.

In haar boek vertel sy aan Sheryl Berk hoe sy met tye moedeloos geraak het. Maar elke keer het sy genade gekry om op te staan (letterlik haarself aan haar hande op te tel!) en verder te loop omdat sy glo dat sy agter die Here aanloop.

In dié boek kry jy meer as net verhale oor haar lewe en die mense met wie sy te doen gehad het. Sy vertel ook wat vir haar belangrik is. So skryf sy oor liefde. Haar aanneemouers het haar geleer hoe om lief te hê: jy aanvaar iemand nes hy is, jou liefde is empaties sodat jy saam met mense huil wat ly, dis prakties sodat jy iemand se las aftel en dit vir daardie persoon dra. Liefde is ook om te waardeer, om te wys dat jy dankbaar is vir wat iemand doen en beteken. En die voorwaarde dat jy ander sal liefhê, is dat eers jouself aanvaar en leer liefhê. Groot woorde!

‘n Aangrypende lewe, op ewe aangrypende wyse hier vertel. As Nick Vujicic jou geïnspireer het, sal Jen dit ook doen. ‘n Moet lees vir mense wat opnuut in dankbaarheid met hulle lewe wil voortgaan, in toewyding aan die Here van die lewe.


bottom of page