top of page

The power of a praying grandparent [resensie]


Stormie Omartian. The power of a praying grandparent. Harvest House. 2016

Om ‘n oupa en ouma te wees, is ‘n heerlikheid wat nie ophou nie. Jy ken mos die gesegde: jy bederf jou kleinkinders en wanneer hulle stout word, stuur jy hulle huis toe! Ja, ‘n mens staan in ‘n ander verhouding met jou kleinkinders as jou eie kinders toe hulle klein was. En dis maklik om jou kleinkinders lief te hê.

Stormie Omartian maak dan die sinvolle opmerking: die beste manier om jou kleinkinders lief te hê, is om vir hulle te bid. Maar hoe en wat bid jy vir hulle?

Die skrywer het al meer as vyf miljoen boeke in die reeks “The power of a praying…” verkoop en hier pas sy daardie beginsels toe op gebed vir kleinkinders. Van die belangrike voorstelle wat sy maak, is dat jy vir jou kleinkinders self bid en elkeen by die naam noem, wanneer jy bid dat hulle gesond, beskerm, slim, vriendelik, wys, gelowig en gehoorsaam sal wees sodat die sielevyand nie hulle in sy mag sal kan kry nie. Jy bid ook vir jouself, dat jy as voorbidder sterk sal staan en jou kleinkinders en die versoekings en beproewings sal verstaan wat hulle konfronteer. Jy bid ook vir wysheid hoe jy hulle van raad kan bedien sodat hulle emosioneel, geestelik, verstandelik en fisies kan oorleef en groei. En dan bid jy vir jou kleinkinders se ouers, dat hulle die Here voorop in hulle lewe sal stel en God toelaat om hulle persoonlikhede te vorm sodat hulle as rolmodelle vir hulle kinders kan dien.

Die boek bevat talle ander voorstelle hoe jy effektief en sinvol vir jou kleinkinders kan bid, maar dit motiveer jou ook om sommige van die gebede hande en voete te gee deur die bydrae wat jy in hulle lewens maak. Die grootste is sekerlik om hulle aan die Here voor te stel. En om dit effektief te doen, benodig ook indringende gebed wat die terrein gelyk maak en die grond vrugbaar maak vir die evangelie wat jy oordra.

Oupas en oumas moet in vennootskap met hulle kinders die kleingoed geestelik versorg. Waar Stormie se boek wat ouers raad gee hoe om te bid talle se lewens aangeraak het en gesinne verander het, sal hierdie boek dieselfde vir grootouers doen.

Dis beskikbaar by alle winkels van CUM, en onthou dat jy dit ook op hulle webwerf elektronies kan bestel!


bottom of page