top of page

Kyk jou taal uit!


“Check bietjie jou taal,” hoor ek iemand nou die dag vir sy seun sê. Toe besef ek hy bedoel sekerlik nie gemengde taal nie, maar kru-taal. Net daar onthou ek toe die navorsing van die bekende Amerikaanse kerknavorser George Barna, wat ’n paar jaar gelede bevind het die gemiddelde Amerikaanse jongmense gebruik tot soveel as 80 tipe kru-woorde per dag. “Eish!” sou my een vriend gesê het. Verseker hoort sulke sort taal nie op ons lippe nie, soos wat Paulus in Efesiërs 4:29 skryf. Maar ons mis dikwels sy daaropvolgende woorde. Hy voeg naamlik net hierna by dat ons taal goed moet wees. Dit moet ander mense opbou. Ook sê Paulus dat ons woorde ’n seën vir ander moet wees. Dus gaan dit nie maar net oor die vermyding van afbrekende, lelike woorde nie, maar ook oor die gebruik van die regte genesende soort taal.

Te veel van ons daaglikse woordeskat is ook deurtrek met negatiewe terminologie. Onlangs lees ek van ’n studie wat gaan kyk het na 558 prominente terme vir emosies in Engels. Hulle het bevind het dat 62% van hierdie terme negatief was, met slegs 38% positief. Lyk my, ons dink en praat onsself negatief. Daarom dat ons ook Paulus se woorde in Filippense 4:8 ernstig moet opneem. Hy skryf hier dat ons alles moet bedink wat waar, eerbaar, reg, suiwer, mooi en lofwaardig voor God is. Die rede? Wel, die taal wat ons praat verklap heelwat oor die roetes van ons hart! As ons reg dink, sal ons woorde kort op die hakke van sulke gedagtes volg. Reg dink lei tot reg praat. Om die regte gedagtes in God se teenwoordigheid aan te leer, lei tot ’n nuwe woordeskat wat oorloop van blydskap, lof en vreugde. Sulke taal bou ander mense op.


bottom of page