top of page
Writer's pictureStephan Joubert

‘n Connoisseur, ‘n fynkenner van die regte oomblikke!


Ek lief die Franse impressioniste se kunswerke. Skilders soos Renoir en Monet was meesters daarin om die terloopse oomblikke van die lewe vas te vang. Daardie doodgewone gebeure, soos twee mense wat langs die see stap, of ‘n vrou op ‘n swaai, of mense wat vrolik om ‘n tafel saamgesels, is meesterlik deur hulle uitgebeeld. By die impressioniste het ek geleer dat die gewone oomblikke van die lewe belangrik is ... maar by God het ek geleer dat sulke oomblikke selfs lewensbelangrik is. Glip die alledaagse lewe deur ons vingers, dan glip die lewe deur ons hand! Ons is so oorhaastig om by ons drome anderkant die horison uit te kom dat vandag eintlik nie saakmaak nie. Môre en oormôre is al wat tel. Daaroor droom ons, maar intussen gaan een dag na die ander nutteloos by ons verby. Nog erger, kans op kans glip deur ons vingers omdat ons nie fynkenners van die doodgewone oomblikke in die lewe is nie. Ons weet nie hoe om gewone momente te beleef en te omskep in Goddelike momente nie. Ons vang nie vandag se porsie lewe vas in ‘n goue raam nie, daarom is ons dikwels ontevrede met onsself en met almal. Keer asseblief dat dit met jou gebeur.


bottom of page