top of page
deur Marius Nel

#KiesDieLewe [resensie]


Johan Smith. #KiesDieLewe: 101 lekker-lees-maklik-doen oordenkings om elke dag voluit te lewe. CUM. 2016

Johan Smith het bekend geraak as predikant by Moreletapark Gemeente nadat hy ‘n loopbaan as bekende ekonoom verruil het vir die verkondiging van die evangelie. Vandag het hy ‘n maatskappy wat fokus op die bediening van die jeug, onderwysers, skoolhoofde, ouers, predikante en gewone lidmate. Sy werk neem hom regoor die land na skole en kerke waar hy talle mense bedien.

Met ander woorde, hy ken die taal van die kontemporêre jongmens. Hy word deur hulle gehoor. En in dié boek praat hy met gesag.

In 101 oordenkings vertel Johan die stories van bekende mense. Hy haal lewenslesse uit die lewens van rolmodelle soos Craig Groeschel, Boeta Dippenaar, Natalie du Toit, Penny Heyns, Gary Kirsten, Shaun Pollock, moeder Teresa en Bill Hybels. In talle gevalle ken hy die mense persoonlik, in ander gevalle het hy wyd navorsing gedoen. En die oorhoofse tema is dat die jongmens sal besef: wanneer jy jou hoop op Christus stel, sál jy oorwinning beleef.

In ‘n land waar veral talle jongmense moedeloos geword het omdat hulle nie weet of hulle studies sal kan bekostig of werk gaan kry nie, is dié boodskap tydig. Christine Caine het ‘n doodsvrees vir vlieg gehad. Wanneer haar optredes vereis het dat sy moes vlieg, het sy die uitnodigings geweier. Tot sy geleer het dat die woorde “moenie bang wees nie” 350 keer in die Bybel voorkom. Sy het gekies om God te vertrou om haar op elke vlug te bewaar en te beskerm, eerder as dat vrees haar lewe beheer. Enige gelowige mens mag kies om dit wat jou angstig maak, aan die Here oor te gee en Hom te vertrou dat Hy jou sal deurdra.

Later het Christine en haar man hulle begin beywer om mensehandel te ontbloot en skuldiges aan die owerhede te rapporteer. In die proses het hulle moeilike tye en teleurstellings en swaarkry beleef. Maar hulle het geleer dat dit swaarkrytye is wat jou geloof sterk maak.

Elke oordenking bestaan uit ‘n eietydse ontwerp van ‘n dagstukkie, ‘n relevante Skrifgedeelte en ‘n gebed.

Die boek maak ‘n ideale geskenk vir enige jongmens. Dit gaan verseker ons kinders bemoedig om vreesloos en oorwinnend vir die Here te leef!


bottom of page