top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Is die maan dalk tog van bloukaas gemaak?


Die wêreld is vreemd verby. Wie sou kon dink dat Donald Trump ooit president van die magtigste nasie op aarde kon word? Party sê dis die beste saketransaksie wat hy ooit beklink het, en ander sê moeilikheid wag nou op ons. Tussendeur tref wolkbreuke van epiese proporsies sekere dele van Suid Afrika. Hier naby ons het alles vanaf Oliver Tambo tot by Bedfordview Donderdagaand in ’n see verander. Jy sou vir ’n wyle kon dink jy kort ’n boot eerder as ’n vliegtuig. Ook is Malema op dreef en dreig met uitwissing van wittes, terwyl Kenny Kunene vreesloos terugkap en sê hy sal sy wit vriende teen Julius beskerm. Dis toe dat ek dink net dalk vind iemand volgende week ook nog uit die maan is van bloukaas gemaak.

In hierdie holderstebolder wêreld soek mense na sin en betekenis. Party Christene raak selfs paniekerig en maak vrees-aangedrewe opmerkings rondom straf en oordeel. Ander sê weer God is in beheer, en daar’s ’n doel met dit alles. Maar is dit die beste antwoord is om vir mense te gee wat in hierdie dae ontredderd en magteloos voel. Soos wat iemand vir my sê: “Niks maak meer enige sin nie, en dan sê party kerkmense so half uit ’n heilige hoogte vir my: ‘Toemaar, God is in beheer.’ Ek kort meer hulp in hierdie tyd as dit.” Wel, feit is, Die Here het nooit vir mense wat in krisisse was in die Bybel gesê: “Moenie bekommer nie, Ek is in beheer.” Wat Jesus graag gesê het, is: “Moenie bang wees nie, dit is Ek.” Daar in die storm in Markus 6, of die aand na sy opstanding (Johannes 20), is sy teenwoordigheid die troos. God Self is die troos. Hy is die antwoord, nie die feit dat Hy een of ander plan het nie. Ja, dit het die Here verseker, maar die Bybelse troos is God se teenwoordigheid. Dit is oorgenoeg!

As die Here se teenwoordigheid nie vir ons genoeg is nie, sal geen verdere insig oor hoe sy beheer dan nou presies werk ons troos as dinge moeilik raak nie. Hoor weer: God is genoeg. Hoor dit, bepeins dit, oordink dit, glo dit, ervaar dit. Dan sal jou onstuimige hart tot bedaring kom.


bottom of page