Ons huweliksbeloftes
top of page

Ons huweliksbeloftes


“’Die Here vir wie ek nog altyd lief was, sal sy engel saamstuur en jou help om vir Isak ‘n vrou by sy pa se familie te kry.’ ... Genesis 24:40

God wil dat ons en ons kinders gelukkige en geseënde huwelike sal hê. Dis immers die plek waar ons die ware hart van liefde elke dag ondervind.

Juis omdat die saamwees van getroudes so ‘n toffie kan wees, kan ons nooit genoeg bid vir ons en ons kinders se huwelike nie. Van jongs af kan ons bid dat die Vader vir ons die regte maat sal stuur en vandat ons eie kinders klein is kan ons bid dat die Vader ook vir hulle die regte lewensmaat sal stuur. Want ons God gee om vir huwelike! Vir Hom is dit die plek waar ons iets van sy Bruidegomliefde teenoor ons, sy bruid, ervaar. Dis die plek waar ons veilig voel om ons eie menswees en ons geloof uit te leef. Die saamwees van huweliksmaats behoort die nes te wees vanwaar ons die wêreld met verwagting in vlieg omdat ons daar aanvaar word net soos ons is. Omdat ons by ons lewensmaat gekoester, veilig en geliefd voel.

Kom ons bid elke dag vir ons, ons kinders en ons vriende se huwelike. Kom ons vra dat die Gees tuis sal wees in elke paartjie se harte en dat Hy deel sal wees van hulle maatwees-lewens.

Here, ek wil vandag weer bid dat u elke huwelik sal seën en dat U die Hoof van elke huishouding sal wees. Veral ook van myne.


bottom of page