top of page
  • deur Milanie Vosloo

Sien ander dat Hy by jou is?


Ongeveer dieselfde tyd het Abimelek en sy leërhoof, Pikol, Abraham besoek en gesê: “Abraham, God is altyd naby aan jou. Wat jy ook al doen, Hy is by jou ...” Genesis 21:22

Dit gaan nie altyd goed met kinders van God nie. Soms kry hulle seer, tref rampe hulle en gebeur daar regtig slegte goed in hul lewens. Ander kere weer kan dit ongelooflik goed met ons gaan en ervaar ons hoe God se seën op verskillende maniere na ons toe oorspoel.

Juis omdat ons kinders van God is, hou ander mense ons met ‘n fyn oog dop. Hulle kyk hoe ons reageer wanneer die lewe ons omslaan en hulle wonder met belangstelling hoe ons op voorspoed reageer. Vir die mense rondom Abraham was dit duidelik dat daar ‘n stuk seën om hom hang. Hulle het ervaar dat God – ongeag die verloop van sy lewe – altyd by hom was.

Dink jy ander mense kan sien dat God by jou is? Ervaar hulle dat jy vrede vind onder moeilike omstandighede en dankbaarheid beleef wanneer dit met jou goed gaan? Dink jy ander sal na jou kyk en met eerlikheid sê: “ ... God is regtig naby aan haar.”?

Die manier hoe jy op slegte en goeie dinge in jou lewe reageer, wys aan ander hoe naby jy aan God leef. En hoe naby jy Hom aan jou toelaat. Sien ander: Hy is by jou?

Vader, help my om so te leef dat ander u as die Seëngewer van ons lewens sal beleef.

Net soos jy is – uitgegee deur CUM


bottom of page