Vreugde en Blydskap
top of page

Vreugde en Blydskap


Die belangrikste ding wat jy moet weet van blydskap is dat dit nie gekoppel is aan ’n spesifieke gebeurtenis nie. Ware geluk kom nie van buite af nie, maar van binne af.

Om uit te mis op vreugde, is om uit te mis op ’n rede vir jou bestaan. Is daar iets binne jou wat sê, maar dit kan nie wees nie? Het jy geweet dat God die vreugdevolste wese in die heelal is? Regtig? Wees vreugdevol want dit is God se wil vir jou!

Ek het hierdie dinge spesifiek genoem omdat ek wil hê dat jy dadelik na jou eie lewe moet kyk en wonder of jy nie dalk kan doen met ekstra vreugde nie. . . Wat is vreugde en waar kan jy nog van dit kry? As jy ’n foto van vreugde kon neem, hoe sou dit gelyk het? Watter foto sal jy gebruik om dit voor te stel? As jy die Bybel lees dan kom jy agter dat dit volsketse van blydskap is.

Neem Galasiërs 5:22 byvoorbeeld wat praat van die vrug van die gees en hoe blydskap deel is van hierdie pakket. Die belangrikste ding wat jy moet weet van blydskap is dat dit nie. Met ander woorde, die blydskap is aanhoudend en selfgenererend. Jy ervaar hierdie blydskap in elke oomblik van die dag en dit gaan nooit weg nie.


Die ander prentjie wat die Bybel vir ons skets is in Habakuk waar die boer sê dat al sou sy vyebome nie bot nie, en sy wingerd uitgedroog wees, sy oes misluk het en hy geen beeste het nie – sal hy hom steeds in die Here verbly. So ’n foto van vreugde is ’n foto van ten spyte van. Hierdie skrif sê dat as jy jou vreugde in die Here vind, kan moeilike omstandighede nie daardie vreugde steel nie.

Dan die derde skets van vreugde is te vinde in Filippense 4:4 waar Paulus ons aanmoedig om ons altyd in die Here te verbly, maak nie saak wat nie. Ons moet bly wees oor die feit dat ons in Christus is en Hy in ons! Partykeer lyk ons Christene alles behalwe bly juis omdat ons Christene is. Ek wonder of dit nie te doen het met ons persepsie van God nie? Jy kan na God kyk as hierdie somber God wat vreugdeloos is en die heeltyd kwaad is. Aan die anderkant kan jy deur die Skrif na God kyk as iemand wat vreugdevol is en die bron van alle blydskap is. Is God vir jou die vreugdevolste persoon in die heelal of is dit vir jou moeilik om in te dink? Kan jy dink dat God ’n vreugdevolle, dansende God is? Sefanja sê Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in Sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel! Een Engelse vertaling sê dat Hy in die rondte draai en in die lug opspring! As jy die rede kan vind hoekom God so bly is oor jou, dan kan jy ook soveel blydskap daarin vind. God is bly oor hoe Hy jou geskep het. Hy staan in verwondering oor jou en daar is ’n vreugde wat in Hom opkom wanneer Hy na jou kyk want jy is syne!

Ek sien God as hierdie borrelende, vreugdevolle wese wat die bron van alle blydskap is. Ek dink God staan in verwondering oor sy eie skepping elke dag. Ek dink elke dag as die son of die

maan opkom, kyk Hy met diep vreugde na sy skepping wat Hy so wonderlik gemaak het.

As jy jou vreugde in die Here vind, kan moeilike omstandighede nie daardie vreugde steel nie

Ons Christene moet eintlik die mees vreugdevolste mense op aarde wees juis omdat die bron van vreugde binne in ons leef! Ongelukkig is ons geneig om ons eie vreugde uit te stel omdat ons dit koppel dink dat as ons meer geld kry, gaan ons gelukkiger wees. Ons dink dat as ons net getroud kan wees, sal ons gelukkiger wees. Maar dis alles dinge wat net tydelike geluk bring. Dis nie ware geluk wat van binne in plaas van buite af kom nie. Dit sal jou dalk beter laat voel, maar dit sal jou nie noodwendig gelukkiger maak nie.

Navorsing het getoon dat daar drie goed is wat jou kan gelukkiger maak en as jy daarop fokus, kan dit jou geluk bevorder. Die eerste is jou verhouding met God, tweedens is vriende en derde is wanneer jy vir ander mense begin lewe. Ek is oortuig daarvan dat vreugde uit stilte gebore word. My lewe is opgedeel in twee dele – die een deel leef ek en die ander deel wag ek om te leef. Ek wag om klaar te maak met my graad, ek wag vir die vergadering om klaar te maak, ek wag vir die week om verby te gaan...Dis gewoonlik gedurende hierdie wagperiode wat ons nie plek maak vir blydskap nie. Ons leef nie in die oomblik nie en ons mis uit op blydskap. Vir jou om weer bewus te raak van die lewe en die blydskap wat daarmee gepaardgaan, moet jy weer stil word voor die Here en tyd in sy teenwoordigheid spandeer en net weer in kontak met jou bron kom.

Tweedens moet jy weer tyd spandeer saam met die regte mense in jou lewe. Kom uit by die mense wat jou bou en jou weer energie en lus vir die lewe gee. Kom uit by die mense wat vir jou omgee en wat wil sien dat jy ’n sukses van jou lewe maak. Ken jy sulke tipe mense? Dis net lekker om saam met hulle te wees! Hulle is vol vreugde en energie en as jy net ’n rukkie in hul teenwoordigheid was, dan voel jy sommer ook beter.

Miskien moet jy ’n vreugde-mentor kry – iemand by wie jy kan leer om meer vreugdevol te wees. Het jy al agtergekom dat mense wat vreugdevol is, is altyd dankbaar oor iets? Daar is altyd iets waaroor hulle dankbaar is wat meer gewig tel as die dinge waaroor hulle eerder ongelukkig is. Vreugde is ’n baie aansteeklike ding!

Laastens wil ek jou aanmoedig om die dissipline van feesvier aan te leer. Dis tyd wat jy neem om die lewe en die mense wat in jou lewe is te vier! In hierdie tyd maak jy weer kontak met die mense in jou lewe wat vir jou baie beteken en bou jy aan die verhoudings wat vreugde tot gevolg het. Dit laat jou besef watse groot gawe die lewe is! Miskien is dit kuier by vriende, miskien is dit om ’n goeie boek te lees en miskien is dit om na jou gunsteling musiek te luister. Wat daarmee saamgaan is die dissipline om iets van jouself te gee. Moeder Theresa het gesê dat as jy gevul is met vreugde dan preek jy sonder om te preek. Is dit nie maar waaroor die hele Christelike wandel gaan nie? Om meer vreugdevol te wees om sodoende meer vreugde vir ander mense te bring? As dit jou fokus in die lewe is, dan loop my en jou beker oor van vreugde!


bottom of page