top of page

Jesus sien my raak


Jesus het die mens geken en Hy het geweet wat Sy volgelinge in die werksituasie gelukkig maak. Hy het ‘n voorbeeld gestel van hoe om deur erkenning positiewe en sterk kenmerke by sy volgelinge raak te sien en waardering daarvoor te betuig.

Jesus het aan Sy dissipels gesê: ”Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief........ Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet “ (Joh.15:9,12). Jesus het sy dissipels self uitgekies en al was hulle nie hoog geleerd nie, het Hy geweet dat hulle die potensiaal gehad om mekaar lief te hê en die nodige kennis en vaardighede baas te raak om dissipels van mense te maak en hulle te doop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

God het die potensiaal in Sy Seun beklemtoon toe Jesus Hom deur Johannes die Doper laat doop het en God uit die hemel geroep het “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My” (Lukas 3:22) en tydens die verheerliking op die berg is God se stem uit die wolk gehoor wat sê “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom” (Lukas 9:35). God sien die potensiaal in elkeen van ons raak om navolgers van Hom te wees volgens Sefanja 3:17 “Die Here jou God is by jou, Hy die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou”.

Erkenning beteken ook om waardering te hê vir goeie werk waarvoor die persoon dan geprys word en lof en eer ontvang. Jesus het in die gelykenis van die muntstukke vir elkeen van die werksmense wat die geld van die eienaar winsgewend aangewend het aangeprys met “Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel” (Mat.25:21).

Daar is talle gedeeltes in die Skrif wat die gedagte beklemtoon dat iemand wat dit verdien die nodige erkenning daarvoor moet kry, soos “Moenie ‘n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie” (Spreuke 3:27) en “Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is” (Rom.13:7).

Weerhouding van erkenning waar dit verdien word, kan groot ongelukkigheid veroorsaak maar om gedurig te spog met jou eie prestasies, om altyd net aan jouself te dink en om jou te verbeel jy is slim kan ‘n aanduiding wees van belangrik in jou eie oë wees. In Spreuke 27:2 staan geskrywe: ”Laat dit aan ‘n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie; laat dit uit ‘n ander se mond kom, nie uit joune nie”.

Ongelukkig is daar mense wat nie sonder gedurige erkenning, applous en aanmoediging kan leef nie, wat erkenning verwag vir die geringste omgee vir ander en wat Jesus van sê: ”Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie” (Joh.5:44). Jesus het opgemerk: ”Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie” (Mat.6:1-2).

Daar is geleentheid vir erkenning en waardering in alle sfere van die lewe en nie net in die werksituasie nie – selfs in die gesin. ‘n Vader het sommer ‘n warm gevoel teenoor sy seun gehad, toe sy seun vir hom dankie sê omdat sy pa hom altyd aanvaar het soos wat hy is – en hom nie gedurig gekritiseer het en wou verander nie. Erkenning is saam met die geleentheid om te kan presteer die belangrikste bronne van tevredenheid by die meeste werknemers- wat se werk hulle ookal doen. Twee Spreuke beklemtoon hoe waardevol erkenning en lof is: “Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd” (Spr.25:11) en “Die waarde van silwer word in ‘n smeltkroes getoets, die van goud in ‘n oond, die van ‘n mens aan die lof wat hy ontvang” (Spr.27:21).


bottom of page