top of page
  • deur Milanie Vosloo

Geloof in die onmoontlike


Abraham, God is altyd naby aan jou. Wat Hy ook al doen, Hy is by jou. Genesis 21:22b

God verstaan moedelose harte en Hy weet hoe jy ook maar soms wonder of Hy jou – ten spyte van so baie onverstaanbare dinge – tog met sy goedheid wil toevou … wil seën. Jy het dan al soveel keer vir Hom om iets gevra, oor iets gebid en nog steeds nie regtig antwoorde of ’n uitkoms gekry nie.

Menige gelowige het al soms moedeloos gewonder of God se beloftes van trou regtig waar sal word. Soos Abraham en Sara: Vir baie jare belowe God dat hulle ‘n groot nageslag sal hê ... en niks gebeur nie. Vir alle praktiese doeleindes is die vrugbare jare van hierdie huwelikspaar se lewens al verby toe God op ‘n dag in die vorm van drie engele belowe dat hulle ‘n jaar later ‘n seun sal hê. Toe Sara hieroor lag, hoor ons hoe God antwoord: “Is enigiets dan vir die Here onmoontlik? Oor ‘n jaar is ek weer hier, dan sal Sara ‘n seun hê.” (Gen 18:14) Die belofte word waar. God doen wat Hy belowe het. Hy kom sy belofte op nommer 99 na. En Isak word gebore toe Abraham 100 jaar oud is! Dis toe wat Abraham weet: God se beloftes is tot in ewigheid waar.

Jy mag maar jou moedelose, nie-verstaan-hart met jou Vader deel. Hy verstaan dit en dan fluister Hy vir jou: Is enigiets dan vir My onmoontlik?

Dankie dat ek weet: Niks is vir U onmoontlik nie. Niks nie!

Net soos jy is – uitgegee deur CUM


bottom of page