top of page
  • deur Stephan Joubert

Doen “selfie-beheer”


2013 was die jaar van die “selfies,” oftewel, daardie foto’s wat mense van hulleself met hulle selfone neem. “Selfie” is selfs in November 2013 as term van die jaar aangewys deur die Oxford Aanlyn Woordeboek. Dit het gebeur nadat hierdie term reeds aan die einde van 2012 deur Time Magazine as een van die “buzz words” van die jaar uitgelig is. 'n Onlangse studie bevind dat sowat 30% van alle foto’s wat 18-24 jariges neem, selfies is. Daar’s niks fout met selfies nie, mits dit jou nie in ’n arrogante indiwidu verander wat verlief geraak het op jou eie voorkoms nie. Jesus se roete is dié van nederigheid. In eietydse taal gesê, Hy pas “selfie control” op jou toe. Nooit mag jyself die toneel van jou eie lewe oorheers met jou selfsugtige behoeftes aan erkenning nie. Jesus moet saam met jou op al jou lewensfoto’s verskyn. Sy teenwoordigheid moet die eintlike storie van jou lewe vertel, nie jyself nie. Jou lewensfoto’s moet Jesus elke slag uitwys as die Vernaamste Een, as die Here. Verskuif jou aandag na Hom. Hou jou oog op Hom. Natuurlik mag jy ook foto’s van jouself neem en dit met jou vriende deel. Maar as dit slegs vertel hoe goed, oulik of belangrik jy is, dan moet jy jou selfies herbesoek. Nee, dan moet jy jou lewensfokus herbesoek! Herfokus elke dag van voor af op die regte manier, maar herfokus op die Here en op ander mense. Sien ander rondom jou raak wat ook maar net probeer om hulle eie stukkie lewe te leef. Soos wat jy jou kamera moet fokus as jy iets of iemand afneem, moet jy ook jou lewe herfokus sodat ander mense in die fokus staan van jou gebede, jou omgee en jou hulp. Leef hulle raak in Jesus se Naam. Dan doen jy die regte “selfie-beheer.”


bottom of page