top of page

Ek wil nie só uitgesorteerd wees nie


Vroeërjare het ek gewens ek was ook soos daardie geestelik-uitgesorteerdes. Dis diegene wie se geloof werk soos daardie “voor” en “na die tyd” dieët advertensies. (Hierdie advertensies vertel mos altyd net hoe mense na die tyd lyk.) Vroeërjare, wanneer ek na party gelowiges se “groot” getuienisse geluister het, het ek skoon skaam gekry. Hulle lewens was so "suksesvol". Wonders het om elke hoek en draai gebeur, en hulle gebede het boonop altyd gewerk. Ek het agtergekom hier aan my kant van die draad is dit nooit so maklik om te glo nie. Ek beleef ‘n aanhoudende stryd om my hand in die Here S’n te hou. Geestelike amnesia is my voorland as ek nie ligloop nie, omdat ek soms van God vergeet in die harde lewe. Dit bly ook ‘n voortdurende uitdaging om my woorde te tel; tweede myle te loop, en moeilike mense te aanvaar. Miskien begryp jy waarvan ek praat. Dalk beleef jy ook dat geloof ’n stryd is en dat die Here jou elke dag van voor af moet genadig wees. Wag, net dalk is dit dié sleutel tot gesonde geloof! Vergeet dus van te uitgesorteerd wees. Stry elke dag die goeie stryd van die geloof.


bottom of page