top of page

Chase the lion [resensie]


Mark Batterson. Chase the lion: If your dream doesn’t scare you, it’s too small. Multnomah. 2016

Mark Batterson het ‘n belangrike mediaprofiel in Amerika as leier van een van die mees invloedryke en innoverende kerke wat talle kampusse het en ook ‘n koffiehuis, teater en Dream Centre bedryf. Mark is daarmee saam die skrywer van verskeie boeke wat topverkoperlyste gehaal het soos The Circle Maker, In a Pit with a Lion en Wild Goose Chase. Alles om te verduidelik met wie jy in hierdie boek te doen het, indien jy nie van hom weet nie.

Chase the Lion is die lewensmotto van Mark Batterson. Wanneer iemand ‘n leeu in die bos raakloop wat dadelik op jou afstorm, is die natuurlike reaksie dat jy weghardloop (of in ‘n boom klim, indien so iets naby genoeg is!) Nou ja, die normale is wat jy juis nie moet doen nie. Mense wat leeus jag, gaan soek na die toneel van opwinding, waar die leeus brul, met die doel om die leeu te vang. Hulle sien nie ‘n reuse dier met skerp naels en tande wat jou kan verskeur nie. Hulle sien ‘n geleentheid om die doel van hulle lewe te verwesenlik.

Daarom is die sleutelteks vir Mark een van die 31 102 verse in die Bybel, in 2 Samuel 23:20. Benaja seun van Jojada, ‘n dapper vegter uit Kabseël, het talle heldedade verrig. Op ‘n koue sneeudag het hy in ‘n gat geklim, ‘n leeu gejaag en hom doodgemaak!

Om dit te doen, benodig jy wat Napoleon Bonaparte genoem het gewone moed sowel as twee-uur-in-die-oggend-moed. En hy moes geweet het want hy het ‘n groot deel van die wêreld gejaag en onder sy mag gekry!

In talle mense se lewens breek geleenthede aan waar hulle moet besluit: is die doel van my lewe om veilig dood te gaan? Of gaan jy jou droom najaag, al beteken dit dat jy alles verloor?

Gaan jy huis toe of gaan jy groot? Bly jy op die pad wat almal loop of kies jy die pad wat jy intuïtief moet volg omdat daar min voetspore daar verby is?

Hier het jy ‘n wake-up call om op te hou leef omdat jy asem haal en te begin leef soos iemand wat weet waarna jy streef. Jou drome moet so groot wees dat jy in die nag beangs wakker word omdat jy sien wat dit alles behels. Dit moet so groot wees dat dit onmoontlik is om te bereik sonder God. En dit moet so groot wees dat dit God se grootheid illustreer.

Mark Batterson sê: hou op weghardloop van wat jou bang maak. Kyk dit in die oë en oorwin dit. In die Naam van die Here!


bottom of page