top of page
deur Ashe Steenbok

Gospel


Hulle sê die moeilikste ding op aarde is om gelyktydig te swot en te werk. Ek dink die moeilikste ding op aarde is om ‘n tiener te wees in ‘n pastorie. Jou harmonie is soos die plaaslike regering: niemand weet wat gaan volgende gebeur nie! Jou hare kry jy glad nie reg nie en jou gesig lyk soos ‘n oorlogsveld vol landmyne waarop iemand getrap het. Ter selfde tyd het jy te make met die ‘pressure’ van dominee-laaitie wees.

En dan moet jy nog vakke op skool kies wat jou loopbaan gaan bepaal vir die volgende 50 jaar. Nou wie dink so ver as jy ‘n tiener is; al wat ek kon aan dink is die ‘girls’ in my klas, die puisies in my gesig en my hare. Kyk as jy in die Kaap grootword was gladde hare baie belangrik en as jy ‘n kroeskop gehad het, was jy ‘n absolute nul op ‘n kontrak. Dus darem snaaks nê; jou neus kon drie gate gehad het, maar as jy hare soos Andre Agassi gehad het, dan was jou koel en oulik. Die ‘girls’ het hierdie tipe ouens meer gelaaik as ons met die Karoo bossies vir hare. En dit het my selfvertroue niks gehelp nie!!!! My sin vir humor het darem die ‘girls’ laat lag en so nou en dan bene lam gemaak.

Ek gou besef dat ek kon nie alles doen wat ander tieners doen nie! Ek is mos darem die dominee se laaitie en ek moet ‘n sekere gehalte lewenstyl handhaaf, m.a.w. ‘n goeie voorbeeld stel en met goeie maatjies vriende wees en heeldag na Gospel musiek luister. Laasgenoemde was vir my marteling-selfs vandag nog sukkel ek om Gospel te luister. Alles word so oor en oor en oor herhaal. Dieselfde woorde en dieselfde styl. Ek en my vriende moes maar saggies ons popmusiek luister. Ek het nog altyd gewonder oor die Whitney Houston/George Benson liedjie? In die liedjie sing sy “she found the greatest love of all inside of me”. Dit strook nie met die Christelike beginsel van 1 Johannes 4:19 dat God ons eerste liefgehad het en dat die grootste liefde vanaf Hom kom nie. Ek was as tiener baie kompleks en het alreeds besef Whitney sing ‘n humanistiese liedjie, maar nogtans was dit ‘n lekker saamsing treffer.

Tog besef ek een aand 02h00 die oggend langs die pad tussen Plettenbergbaai en Humansdorp, toe my VW Chico probleme gee en dit pik stik donker is en ek die aanvoeling van iets boos voel, dat die Gospel singery verdryf tog die bose en net soos gebed beweeg dit God se hand!

As tiener in die pastorie moes ek maar maats maak met die wat ek nie wil mee maats wees nie; dalk was dit glad nie iets slegs nie. Dalk was dit soos groente eet…nie lekker nie, maar gesond vir groeiende seuns.


bottom of page