top of page

Die regte medisyne vir daardie “GROTER IS BETER” siekte


In ‘n biografie oor Franklin Roosevelt word vertel hoedat hy en ‘n wetenskaplike, William Beebe, soms in die aande die hemelruim bekyk het vanaf die Withuis se dak. Dan het Beebe elke keer aan die president verduidelik hoe groot die verskillende sterrekonstellasies is. Hierna het Roosevelt meer as een keer geantwoord: “Nou is ek klein genoeg. Nou kan ek gaan slaap.” Sjoe, hoe groot is die versoeking nie voor ons elkeen om groot te wil wees nie. Dis trouens die oersonde van die eerste mensepaar. Hulle wou nie voor God buig nie. Hulle wou sommer reg langs Hom op Sy troon sit. Trone en krone pas ons vandag nog beter as dienskneg klere. Ons wil eerder langs God sit as om voor Hom te kniel. Daarom dat ons so sukkel om kleiner te groei. Ons hou van L, XL, XXL, nie van S en XS nie. Groter is beter, kleiner is wel… net kleiner! Groot is vir ons gelyk aan sukses, klein is gelyk aan mislukking. As duisende by ’n kerklike saamtrek of byeenkoms opdaag, dan is dit blykbaar meer suksesvol as wanneer net ’n handjievol getroues opdaag. Die antwoord op hierdie dodelike siekte is om op te kyk! Ek bedoel, om op te kyk na God. Jakobus 4:7-9 skryf dat ons onsself moet verneder voor die kragtige hand van God. Ons moet klein en niks voor Hom word voordat Hy ons kan laat opstaan en ons reg kan gebruik. Ons grootheidswaan staan in die Here se pad. Hy kan ons nie volmaak met sy genade solank as wat ons vol is van onsself nie. Eers as ons buig voor Hom sal ons weer klein genoeg kan begin leef…en ook weer goed slaap!


bottom of page