top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Om skuldig te voel, of nie!


George Bernard Shaw sê: “Balanced people adapt themselves to the world; unbalanced people adapt the world to themselves. That’s why the world is ruled by unbalanced people.” Eina! ‘n Leraar vertel juis vir my hoedat hy heeltyd besig is om ongelukkige kerkmense te probeer kalmeer. Toe ek hom vra of hy darem ook dieselfde moeite doen om gelukkige mense in hulle geloof op te bou, antwoord hy: “ek het nie nog tyd om by hulle ook uit te kom nie.” Tragies! Ons spandeer heeltemal te veel tyd daaraan om manipulerende mense te “diens”.

Soms moet ons skuldig voel, maar meestal nie. Kom ons kyk eers wanneer dit nodig is:

  • Wanneer ons sonde doen, of in slegte gewoontes vasgevang is, dan is ons skuldig. Dan gaan die Heilige Gees aan ons karring om ons te oortuig van sonde.

  • Ons moet skuldig voel as ons werkslawe is wat nie meer tyd het vir ons familie en vir onsself nie.

Ons weet gewoonlik in ons binneste wanneer ons van die merk af is. Dan moet ons daardie egte skuldgevoelens dadelik hanteer deur ons skuld te bely en ons gedrag te verander. Die probleem van onnodige skuldgevoelens steek egter kop uit wanneer ander mense ons manipuleer om hulle swak selfbeeld of sondes in stand te hou.

  • Mense wat slagoffers van vernietigende gebruike is, soos alkoholisme of ander dwelms, manipuleer ons graag om hulle vernietigende gedrag geheim te hou.

  • Party mense met persoonlikheidsgebreke laat ons voel ons is die oorsaak van hulle ongeluk. Sulke mense respekteer nie ons gevoelens, sienings, of privaatheid nie.

Ons is slagoffers van onnodige skuldgevoelens wanneer ons met ‘n “te min, te laat” gevoel opgeskeep sit. In gesonde verhoudings manipuleer mense mekaar nooit om aandag te kry nie. Wanneer ons dus in die teenwoordigheid van iemand anders voel ons skiet te kort omdat ons hom/haar nooit tevrede stel nie, dan word ons uitgebuit. God wil ons nooit in emosionele afhanklikheid van ander mense laat leef nie. Oppas dus vir daardie “martelare” wat ons gedurig laat verstaan hoe onskuldig hulle is en dat die ganse wêreld teen hulle is. As ons nie ligloop nie, is ons hul volgende slagoffer (as ons dit nie reeds is nie)!


bottom of page