Vind vreugde in die gewone dinge
top of page

Vind vreugde in die gewone dinge


Ek is opgewonde oor wat U, Here, gedoen het. U, Here, het my sterk gemaak ... Ek is so bly dat U my gehelp het!” 1 Samuel 2:1

Dis ‘n kuns om, ten spyte van die dinge wat met ons gebeur, ons talle verantwoordelikhede en die eise wat elke dag aan ons gestel word, regtig te kan sê dat jy die lewe geniet. Dis ‘n uitdaging om elke dag met ‘n lied in die hart wakker te word en jou dagtaak met ‘n huppel in jou stap deur te voer ... sommer net omdat jy sielsgelukkig is.

Of dalk is dit juis nié so ‘n groot kuns nie! Want ek sien hoe ‘n brandarm vroutjie dapper glimlag omdat sy vandag genoeg sente het om ‘n brood kan koop; hoe die vullisman ‘n grappie maak voordat hy die asdrom op die stikkende trok leegmaak en hoe die kassier vriendelik is ten spyte daarvan dat sy nie eers die helfte van die dinge kan koop wat in my kruideniers-trollie is nie!

Miskien moet ons, wat meestal so baie het, ophou om voorwaardes vir ons geluk te stel en eerder fokus op dié gewone klein dingetjies. Op dié dinge wat van die lewe ‘n ware kuns maak.

Om die lewe te geniet beteken dat ons ‘n punt daarvan maak om elke faset van ons lewe te waardeer, om elke ding wat ons het, as ‘n heerlike gawe te beskou en om alles wat ons kan doen, as ‘n voorreg te beleef.

Here, leer my die kuns van ware lewensvreugde.


bottom of page