Lofprysing aan God
top of page

Lofprysing aan God


Lofprysing aan God is die aanbidding en verering van God in jou hart en met jou verstand. Wie is God dat ons Hom sal aanbid en eer aan Hom bring? Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: ”Ek is God die Almagtige” (Gen.17:1). God, die Almagtige het die hemel en die aarde geskape, die see en alles wat daar in is – die mens het Hy geskape na Sy beeld.

Marius Nel het in WAT Sê DIE BYBEL OOR........ (Cum, 2007), pp 379-393 ses en sestig skrifgedeeltes oor lofprysing aan God geïdentifiseer waarvan 32 uit die Psalms geneem is, 13 uit ander boeke in die Ou Testament en 21 uit boeke in die Nuwe Testament. Die psalmskrywers, waarvan Dawid die bekendste was, het lofprysing aan God die onderwerp van ten minste 20% van die psalms gemaak.

Hierdie lofprysingsgedeeltes in die Skrif maak dit baie duidelik dat God slegs erkenning, lof, eer en gehoorsaamheid aan Hom van ons as Sy kinders verwag vir ons om die ewige lewe te kan beërwe. Deur God te loof en te aanbid bely ons dat:

*God bewys ontferming en liefde van geslag tot geslag aan die wat Hom dien en eer.

*Ons moet die Here ons God se Naam prys en in aanbidding voor Hom buig want Hy is heilig.

*Alles in die hemel en die aarde behoort aan Hom: die grootheid, krag, glans, wysheid, roem en majesteit.

*Hy het ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

*Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die groot genade van God.

ENKELE GEDEELTES UIT DIE SKRIF OOR LOFPRYSING AAN GOD

*Gee lofprysing aan God wanneer julle saamkom om hom te eer en te aanbid: In sy brief aan die Kolossense beklemtoon Paulus dat hulle die uitverkore volk van God is wat Hy baie lief het en dat hulle mekaar met alle wysheid moet leer en onderrig en dat “Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing” (Kol.3:16).” Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente...... Sy dade is vol majesteit en luister, sy trou staan vir altyd vas” (Ps.111:1,3).

*Loof God met instrumente en begeleiding:” Prys die Here! Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf! Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid! Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en lier! Prys Hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinstrumente en fluite! Prys Hom met simbale, prys Hom met galmende simbale! Laat alles wat asemhaal, die Here prys! Prys die Here”! (Ps.150:1-6).

“Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, om elke more van u liefde te getuig, en elke aand van u trou, om dit te doen met snaarinstrumente, met harp en lier” (Ps. 92:2-4).

“Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing! Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing. Blaas die trompet en die ramshoring, jubel tot eer van die Here, die Koning” (Ps. 98:4-6).

*Ons Here is groot en magtig: Prys die Here! Dit is goed om tot lof van ons God te sing, dit is ‘n genot om die loflied te sing wat Hom toekom..... Die Here het niks aan die krag van ‘n perd of die liggaamskrag van ‘n soldaat nie, maar Hy stel prys op dié wat Hom dien, dié wat hulle hoop vestig op sy trou” (Ps.147:1,10-11).

“Op my boog vertrou ek nie en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie, want dit is U wat ons die oorwinning oor ons teëstanders gegee het en ons vyande die aftog laat blaas het”(Ps.44:7-9).

*Onverganklik is die liefde van die Here:” Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie” (Ps.118:1, en Ps.136:1). “Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag” (Ps. 100:4-5).


bottom of page