top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Tyd is geld. Of is dit?


Tyd is geld. Daar’s nie tyd vir rondsit en niksdoen nie. So glo vele. Geen wonder nie dat ons deesdae opgeskeep sit met sulke vreemde terme in ons woordeskat soos ‘tydsbestuur’ of ‘effektiewe tydsbenutting.’ Ja, ons moet selfs al tyd spaar om meer tyd beskikbaar te hê, of so iets! Dis nou te sê as jy al daardie tydsbestuur-ghoeroes glo! Lyk my ons is tyd-verslaafdes. Ons jaag gedurig buite die spoedgrens na elke nuwe bestemming toe in die hoop dat ons iewers twee of drie minute sal spaar- net om daardie “gespaarde tyd” te vergeet as ons by die volgende destinasie aangekom het. (Ek wou juis onlangs vir iemand, wat my uit die pad gejaag het net om eerste by die verkeerslig op te eindig, gaan vra hoe hy daaroor voel dat hy my motor amper stukkend gery het, maar vroulief het gekeer…) Nee, ons spaar nie regtig tyd nie. Ons jaag maar net ons hartklop op en laai vragte vol stres op ons eie skouers.

Weet jy, die Here het ons nie aanmekaar gesit om gejaagd te leef nie. Dis nie deel van sy plan dat ons daagliks deur die klankgrens moet bars nie. Ons is gemaak vir verhoudings. En hiervoor het ons rustyd nodig, stilstaan-tyd, handevat-tyd. Voordat jy verkeerd hoor- dit gaan nie oor niksdoen nie. Keer op keer roep die Bybel ons op tot harde werk. In 2 Tessalonisense 3:10-13 verduidelik Paulus padlangs dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie moet eet terwyl hy luilekker op ander se nekke rondlê nie. Maar Paulus sê definitief nie ons moet onsself doodjaag nie. Ons is nie slawe van werk nie; ons doen dit van harte, soos vir die Here. Maar ons weerstaan gedurig daardie druk om by almal en alles verby te jaag. Hoe vinniger ons leef, hoe minder sien ons mekaar en die Here raak. Daarom dat ons gereeld moet stop en tot stilstand kom. Ons kom tot rus. Ons praat. Ons kuier. Ons bid. Ons lees Bybel. Het jy ooit nog tyd hiervoor?


bottom of page