top of page

‘n Impakvolle lewe


Ek onthou hoe Ma met ‘n handvol kinders in die kerkbank gesit het terwyl Dad met sy swart pak in die diakensbank stelling ingeneem het. Dis dan ook hier waar ek vir Ma laat swaar kry het omdat ek tydens die erediens vir ‘n maatjie die mooi strepies op my rok sit en wys het.

Heelwat later moes ek as tiener alleen in Vanderbijlpark-Wes se kerk gaan sit en orrel oefen – die gebou het so ‘n gewyde atmosfeer gehad dat ek gevoel het ek behoort op my tone te loop. Gelukkig weet ek vandag dat kerk nie ‘n gebou is nie, maar dat ek self deel van die kerk, die liggaam van Christus is. Om die waarheid te sê, my hele lewe kan ‘n erediens wees. Dit is God se teenwoordigheid wat my lewe sinvol maak, want ek kan enige tyd saam met Jesus, vervul met sy Heilige Gees, in iemand se huis/leefwêreld instap met sy boodskap van liefde, vergifnis en hoop.

Ek hoef net te doen wat God wil, daar waar Hy my geplaas het – of dit nou ook ‘n hoëprofiel bediening is soos Elia of ‘n hedendaagse Billy Graham/Joyce Meyer is, en of dit die nederige posisie van ‘n jong diensmeisietjie in diens van ‘n heidense leier of ‘n hedendaagse huishulp is.

Dis so bemoedigend om te weet dat God omgee vir wie ek is, hoe ek lewe, waarmee ek besig is. (Psalm 139) Ons God is ‘n kreatiewe God wat vroegoggend saam met my man (die vroeg-opstaner in ons huis) in die tuin wandel waar Brink biddend met Hom kan gesels en toegerus word vir sy dienswerk; ‘n kreatiewe God wat van ons huis ‘n plek van ontmoeting en dienswerk vir sy Koninkryk maak. Dis onder andere hier waar die Evangelie kan “voete kry en aarde toe kom,” soos wat Stephan Joubert dit so pragtig stel. Hier waar ons ‘n reisende evangelis kan huisves, vir ‘n vriendin wat onlangs weduwee geword het ‘n klein rukkie ‘n veilige skuilplek (sanctuary) bied om oor die alleen-pad vorentoe te besin.

My lewe, my huis, my werkplek is alles plek waar God se Naam mag woon, geëer mag word. Dis net so belangrik dat ek in alle omstandighede onthou dat ek in God se diens staan, ‘n ambassadeur vir sy Koninkryk is – dat ek nie in die eerste instansie fokus op my regte en my behoeftes nie, maar dat ek fokus op Hom wat vir my by die hemelse “wenpaal” wag (Hebreërs 12) en dit waarvoor Hy my in ander se lewens wil gebruik.

Hierdie perspektief maak dit vir my moontlik om met ‘n eie klein woelwater in die kerkbank sit met ‘n sketsboekie waarin ek vir haar die karakters/gebeure wat in die preek genoem word, kan teken – totdat genoeg ooms en tannies frons en ons liefs met ‘n kleuterkerk begin waarin kleuters na hartelus met luister én aktiwiteite die Here kan loof.

Die moontlikhede om die Evangelie voete en hande te laat kry, is onbeperk. Ek moet net gewillig wees om my lewe tot beskikking van my liefdevolle, genadige, kreatiewe God te stel.


bottom of page