Denke beïnvloed jou lewe
top of page

Denke beïnvloed jou lewe


Filippense 3:8

Ek het baie keer vir die atlete wat ek afgerig het vertel dat hulle in hulle wedlope hardloop soos wat hulle die week geoefen het. As jy hard werk in die week en jou oefening ernstig opneem, sal jy daarvolgens presteer. Die tye wat jy hardloop reflekteer jou werk op die baan.

Ek voel dieselfde oor my kop en my denke. Dit wat ek dink beïnvloed my lewe. As ek die hele tyd negatiewe gedagtes dink, gaan dit my lewe negatief verander. Wat in my kop aangaan, gaan in jou lewe oorspoel. Die spreekwoord sê mos duidelik vir ons, wat die hart van vol, is loop die mond van oor.

Paulus leer vir ons in hierdie teks om ons gedagtes te fokus op die waarheid. Wees eerlik in jou optrede en wandel met mense. Leef eerlik in jou transaksies en besigheid. Leef ook eerlik teenoor God. Erken Hom as die God van die heelal, en leef ‘n lewe wat jou geloof weerspieël. Met ander woorde as ‘n gelowige, moet jy eerlik wees. Paulus vra dat ons ook rein sal lewe. Reinheid staan hier in direkte kontras met alles wat sleg en besmet is van sonde. Verder hoor ek dat ek ook my gedagtes moet rig op dinge wat mooi is. Wanneer iemand opreg praat of optree, is dit die moeite werd om te luister en ag te slaan op wat hy doen. Neem kennis van mooi dinge in die lewe en ondersteun dit. Deur mooi dinge te waardeer voed jy jou gedagtes positief, wat weer ‘n invloed het op jou lewe.

Hierdie vers maak ons bewus van ons gelowige uitkyk en leefstyl. As kind van God kan ek nie getuig dat ek ‘n Christen is, maar ek doen nie bogenoemde nie. Sondes soos oneerlikheid, om te steel, moord, vervalsing en leuens, pas net nie by die Christelike leefstyl nie. Paulus doen ‘n beroep op die mense van Filippi om hierdie leefstyl te volg sodat hulle die getuienis van die evangelie sal uitdra.

Leef eerlik en rein voor die Here, maar meer nog laat dit waarop jou gedagtes gefokus is, oorloop in jou lewenswandel.

Gebed

Here, ek wil eerlik, rein en opreg voor U lewe sodat ek U getuienis kan uitdra. Amen


bottom of page