Bekommerd!
top of page

Bekommerd!


Terwyl ek en Brink onlangs ‘n besondere uitdaging voor ons gehad het en ek begin voel het ek behoort deurnag te werk om voor te kom met my verpligtinge, kom Stephan Joubert se aanlyn dagstukkie van 19 April deur waarin hy my herinner aan die slaap-psalms. Die volgende dag lees ek Spreuke 12:25 Worry weighs a person down; an encouraging word cheers a person up, waarop Micha Jazz se kommentaar is: There is nothing more debilitating than worry and anxiety.

Dis so maklik om te sê dat ek op God vertrou wanneer dit goed gaan, maar my geloof en my moed word mos juis getoets wanneer ek te staan kom voor situasies wat onmoontlik lyk. Dan besef ek opnuut dat ek altyd moet glo dat die Here se liefde en lig groot genoeg is om die heel moeilikste situasies en omstandighede vir my die hoof te bied of my in staat te stel om dit die hoof te bied. God skrik mos nie vir die vyand se grootte of die ingewikkeldheid van ‘n probleemsituasie nie. Ek moet net die krag wat ek wel het tot sy beskikking stel en Hom vertrou om die oorwinning te gee.

Die “sorge van die lewe” kan my óf geestelik help groei wanneer ek kies om God te vertrou óf my geestelik knou wanneer ek meer op die probleme as op God fokus. Jesus gebruik die beeld van onkruid wanneer hy hiervan praat – en ek moet kies of ek hierdie onkruid in my lewe gaan laat groei of nie. Geloof wat nie getoets is nie, is nog nie ware geloof nie.

My eie ondervinding is dat geloof in God beteken dat Hy vir my meer sal beteken as enigiets anders in my lewe. Dit het beteken dat ek my drome vir en my regte in my huwelik vir Hom moes gee, dat ek op verskillende stadiums die “besitreg” op elk van my kinders ook vir Hom moes gee. Die gevolg was dat ek ‘n huwelikskrisis kon oorleef, dat ek die swaarkry met my kinders se skades en skandes kon hanteer. Die feit dat ek vandag gelukkig getroud is, en dat elk van my kinders op sy/haar eie manier ‘n staatmaker in die gemeenskap is, is nie die gevolg van my groot geloof nie, maar van my groot God se groot genade.

Dis so belangrik dat ek nie moedeloos sal raak nie, maar onthou dat my reis saam met God ‘n leeftyd duur, dat dit soms lank neem voordat daar verandering en oorwinning kom. Ek moenie ongeduldig raak oor my eie of ander se vordering nie. God is die Een wat getrou is, wat dikwels besig is om te werk waar ek nie kan sien nie.

Wanneer ek my regte vir God gee en Hy my lewe nuut maak (rearranging my attitudes, desires and motives) kan ek met elke besorgdheid en elke stuk seer na Hom toe gaan. Soos wat ‘n knieserige kleinding in sy mamma se arms aan die slaap raak, om wakker te word met helder ogies en ‘n glimlag – ek kan my hemelse Vader vertrou om my te beskerm en alles te voorsien wat ek nodig het. Want… Net so goed gee Hy dit aan sy geliefdes in hulle slaap.


bottom of page