top of page
  • deur Stephan Joubert

Die kosbaarste skatte is nie altyd ondergronds nie


Nie alles wat blink is goud nie. Daarom is die kosbaarste skatte nie altyd diep onder die grond te vind nie, maar juis hier aan die bokant. Kyk bietjie rondom jou – jou man of vrou, jou ouers of kinders is spesiale geskenke wat die Here aan jou gegee het. O ja, jou vriende ook. Hulle is jou kosbaarste aardse besittings. Nee, die Here wou nie hê jy moet alleen deur die lewe worstel nie. Daarom het Hy hierdie mense aan jou gegee. Hulle is jou helpers, jou steunpilare, jou grootste ondersteuners, jou goud. Dis hulle wat gedurig vir jou bid en jou bystaan. Wat doen jy vir jou dierbares? Bid jy ook gereeld vir hulle? Is jy vir hulle ‘n voorbeeld in toewyding aan die Here? Maak jy genoeg tyd vir hulle? Of is jy altyd moeg as jy spesiale tye met jou familie en vriende moet deurbring? Is daar elke keer nog ‘n stukkie werk wat afgehandel moet word? Wel, dan het jy nog nie God se spesiale skatte behoorlik ontdek nie. Dan soek jy op al die verkeerde plekke na suiwer goud. Kyk weer die mense rondom jou in die oë. Dank God vir hulle en leef naby aan hulle.


bottom of page