top of page
  • deur Stephan Joubert

Moenie goeie bedoelings met opregtheid verwar nie


“Ek het dit goed bedoel!” Dit is al amper die standaard opmerking (= verskoning!) wat gebruik word wanneer iets nie reg uitwerk nie. Om iets goed te bedoel, selfs al het dit slegte gevolge, maak die hele proses blykbaar reg. Ook in die kerk word sulke uitdrukkings baie gebruik. Mense doen dinge wat groot skade maak, maar dan draai hulle om en sê: “ons het dit net goed bedoel.” Dan mag niemand niks verder hieroor sê nie, want daardie goed bedoelendes het die morele hoëgrond eksklusief vir hulleself ingepalm. Hoe gemaak met goeie bedoelings? Moet ons dinge nie goed bedoel nie, of wat? Wel, ’n paar dinge is nodig om hier te weet:

  • Goeie bedoelings is nie in die Bybel ’n etiese beginsel nie. Nooit sê die Bybel dat net omdat iemand iets goed bedoel het is dit outomaties reg in God se oë nie. Vat maar die optrede van die hoëpriester in Johannes 11:50 wat besluit om Jesus met die beste bedoelings ter wêreld te laat doodmaak. So wil hy sy volk se posisie beveilig voor die Romeinse owerhede sodat laasgenoemde nie sou dink Jesus is ’n Joodse terroris nie. Maar is die hoëpriester se goeie bedoelings reg voor God? ’n Duisend maal nee!

  • Goeie bedoelings moenie met opregtheid verwar word nie. Eersgenoemde het met my intensies of planne te make, terwyl opregtheid met my karakter te make het. God roep my op tot opregtheid, nie tot goeie bedoelings nie. Opregtheid, in die woorde van Dawid in Psalm 51 is om ’n rein hart voor God te hê. Opregtheid is om leeg te wees van myself en vol van God se Gees. Dis om my eie selfsugtigheid te verruil vir ’n lewe van diep afhanklikheid voor God. Opregtheid maak dat ek in alles wat ek dink, doen en sê God se eer voorop stel.

God vra 'n lewe van opregtheid, nie maar net goeie bedoelings nie. Mense wat opreg is, vat volle verantwoordelikheid vir hulle eie lewe voor God en tussen ander. As hulle droogmaak, bely hulle dit. As hulle iets reg doen, gee hulle die eer vir God. Hulle leef altyd reg vir God, hulle bedoel nie maar net om dit te doen nie.


bottom of page