top of page

Wikkel jou in sy liefde toe


Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe. Johannes 15:9

Een van die mooiste prentjies is wanneer ‘n klein kindjie onder ‘n troetelkombersie toegewikkel lê en slaap. Dis mos dan wanneer die teerheid van ons liefde vir hulle ons amper weerloos maak. Ons selfs heimlik wens dat ons ook nog ‘n stukkie van daardie onskuld en tevredenheid kan hê.

Maar nou is ons grootmense met ‘n groot klomp verantwoordelikheid op ons skouers wat al die lewe gelééf het. Ons het huppelend die vreugde van lag van die lewe geniet, maar ons het ook al die knieë van ons harte neraf geval. Ons het die heerlikheid van die liefde omarm, maar ons het ook al die pyn van ‘n gebreekte hart beleef. Juis omdat ons die werklikheid van die verskillende fasette van die lewe besef, verlang ons soms na ‘n iemand wat ons ook weer in ‘n kombersie van liefde kan toedraai en ons aan die slaap kan sus.

Dis presies waarom Christus gekom het: Om ons permanent met sy liefde te omhels. Al wat ons moet doen, is om tyd te maak om by Hom te gaan sit, stil te word en te ervaar hoe Hy vir ons sê: Ek het jou net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel jou elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe.

Vou die sagtheid van u liefde heeldag om my hart asseblief Jesus.


bottom of page