top of page

Stories…stories en nogmaals stories


Hulle sê as jy in ‘n pastorie woon dan word jy dopgehou soos ‘n goudvissie in ‘n visbak. Ek weet nie of dit waar is nie want ek het nog nooit die mense gesien wat ons so dophou nie. Nog minder het ek die kommuniste gesien waarvoor ons so bang moes wees. Eendag hoor ek iemand skreeu dat die kommuniste kom; nou vir ‘n kind is dit ‘n wonderlik woord. Ek het altyd gewonder wat en wie hulle is, maar destyds was daar nie google nie en nog minder kon jy as kind vir grootmense nuuskierige vrae vra. Ek weet tot nou nog nie of die kommuniste gekom het nie; wat ek wel weet is dat daar wel mense was wat ons dopgehou het.

Die mense het elke beweging geken en elke gebeurtenis in ons pastorie-lewe. My broer het eendag gerook by ‘n partytjie en voor hy nog by die huis arriveer, was my pa ingelig oor sy rokery. Orals was daar spioene en agter elke bos ‘n kamera. Selfs die dag toe ons per ongeluk in buurman se pruime boom beland het en bietjie proe of die pruime ryp is; het my pa geweet. Nou nie dat hy werklik ontsteld was nie of wou weet nie. Wat hom wel gehinder het was dat ons so dopgehou word.

Natuurlik kan ‘n mens argumenteer dat wanneer jy weet iemand jou dophou, dit jou op jou tone hou. Dus interessant hoe mense ook met so ‘n Godsbeeld grootword. Dat God hierdie God is wat jou heeldag dophou met ‘n vergrootglas en gaan raps as jy verkeerd doen. Daar’s nou ‘n nuwe tendens in Bloemfontein waar mense glo dat God nie meer mense straf nie. Hebreërs 12: 5 is duidelik hieroor dat God spreek mense aan wat verkeerd doen; dus is deel van sy vadersbeeld. Hy, God, is ‘n liefdevolle vader maar ook ‘n streng vader (met opset skryf eers liefdevol).

As 12 jarige seun het ek nie omgegee of mense of die kommuniste my dophou nie. Ek wou speel en myself wees. Ja, natuurlik was ek ook stout en my kaskenades het my pa in die moeilikheid en skande bring. Ek dink pastorie-kinders moet besef dat hulle tog in ‘n visbakke woon en tog dopgehou word en tóg moet besef dat hulle predikant ouers die slae kry vir enige kaskenades. 1 Tim. 3:4 is duidelik hieroor dat kerkleiers moet hulle kinders kan beheer. Wie kan dan nou nie hulle kinders beheer nie?


bottom of page