God waarom lyk die wêreld so? [resensie]
top of page

God waarom lyk die wêreld so? [resensie]


Prof Adrio König het ‘n instelling onder gelowiges geword wat belang stel in die Bybel. En jy is veilig in sy hande omdat hy ‘n Skrifbeskouing het wat behoudend is en geloof versterk.

Hoeveel Christene het nie al seergekry omdat hulle die Here vertrou het vir iets wat vir hulle kosbaar was nie, net om teleurgestel te staan. Dalk was dit ‘n kind of lewensmaat wat ernstig siek was, en jy het al jou vertroue daarop gestel dat die Here jou gebede (en baie ander s’n) gaan verhoor. En dan het die dood tog maar oorwin.

Hoe moet ons oor God en sy wil dink? Hoe kan ons sê Hy is in beheer as Hy nie ons gebede beantwoord nie?

Talle gelowiges in Zimbabwe (en regoor die wêreld) het gebid dat daar ekonomiese en politieke veranderinge sal plaasvind, maar dit het (nog) nie gebeur nie. Miljoene het gebid dat wêreldoorloë ophou en dit het vir jare aangegaan en talle se lewens verwoes. Jode het ernstig gebid dat hulle lewens gespaar word wanneer hulle in konsentrasiekampe opgesluit is, en tog het talle van hulle in die gaskamers omgekom.

Hoe moet ons oor God se beheer dink? Hoe moet ons sy almag en liefde verstaan, en versoen met wat in ons lewens, en ons wêreld gebeur? As Hy as Vader sy kinders werklik liefhet, sal Hy nie ingryp as ons lewens uitmekaar val nie? En as Hy almagtig is, kán Hy mos keer dat ons hierdeur gaan?

Dié vrae is deur die eeue reeds telkemale gestel, en pogings is aangewend om dit te antwoord. En die Bybel is gefynkam om te help om perspektiewe op die Here te vind wat kan help. Augustinus, Thomas Aquinas, Calvyn en Arminius het hulle teologie hier rondom gebou. Adrio König gaan voort om in hierdie tradisie te redeneer dat jy God mag en moet vertrou, omdat Hy teenstand kry maar uiteindelik die oorwinning sal aankondig.

Daar bestaan beperkings op God se almag, redeneer hy. En sy vryheid kom soms vir ons vreemd voor. Ja, niks is vir Hom onmoontlik nie, behalwe… En Hy doen wat Hy wil, maar…

Hier het jy ‘n deurwinterde teoloog wat sy lewenswerk en –wysheid opsom in ‘n boek wat omvattend die vraag bespreek. En die slotsom is dat God kleiner is as wat ons dink, maar veel groter.

Indien die vraag jou al ooit gepla het, is dit dié boek wat jy daaroor moet lees. Dank aan prof König wat dit neergepen het, en CUM wat dit beskikbaar stel vir Afrikaanse lesers!


bottom of page