top of page

Ons is ryk


Die slegste ding wat my pa in die gemeente kon doen is om vir hom ‘n Mercedes Benz te koop. Dit was so ‘n 1982 spierwit 230 wa met bruin leer sitplekke. Ons het te veel gesukkel die bult op met die karavaan en die Mercedes Benz was glo die motor vir die ‘job’. Dit was lekker tye die karavaan kampeerdery. Opgewonde is ons elke Desember na dieselfde kampterrein in Mosselbaai. Was mos nog maar die ou Suid-Afrika en net een plek naby die see vir net een groepering. Die lekkerste was die see en die tentslapery. Moeder moes maar elke oggend saam met my see toe gaan sodat ek nie verdrink nie. Ek was glo ‘n woelige of ‘n wille swemmer en wou al hoe dieper en dieper. Dus darem snaaks hoe ons as mens soms in die lewe nie sien wanneer ons in gevaar is nie en hoe ander kan sien wanneer ons die pad byster raak. Gelukkig wanneer ons besig is om in die lewe te verdrink omdat ons soos Petrus ons oë vanaf Jesus geneem het, is Hy daar om ons te red. Ek moet my woorde beter kies rondom die teks want Petrus het nie ‘verdrink’ nie, maar net teks sê duidelik Petrus het begin ‘sink’ toe die Here hom gered het. Die Here se kinders ‘verdrink’ nooit nie, maar soms ‘sink’ ons weg. Gelukkig is Jesus daar om ons te red; dus wie Hy is.

Ja, die Mercedes Benz was nie ‘n goeie idee nie. Persepsies is gevaarlik en jaloesie is nog meer gevaarliker. Sommige mense in die gemeente het effens verander en ander het opmerkings gemaak. Dit het glo te goed met ons gegaan. Dus seker waarom sommige predikante twee karre het; ‘n ‘Sondageen’ en een ou stukkende bakkie waarmee hy huisbesoek doen. Die gemeente moet darem nie sien dit gaan te goed nie. Ek onthou in my eerste gemeente hoe iemand die opmerking gemaak het dat dit my ‘hoeveelste’ motor is wat ek aangekoop terwyl ek in die gemeente is.

My pa het baie baie hard gewerk en moes elke Kersfees preek. Die kampeerdery was dus net vir ons en nie vir hom nie. Die ruskans was net vir ons en nie vir hom nie. Dankie pa.


bottom of page