Verander Jou Kop Verander Jou Lewe: Die skakel tussen jou brein en jou geloof [resensie]
top of page

Verander Jou Kop Verander Jou Lewe: Die skakel tussen jou brein en jou geloof [resensie]


Stephan is redakteur van e-kerk, spreker, prediker, akademikus, leierskapskonsultant en skrywer. Hy word internasionaal gereken as Nuwe Testamentikus en het ook professorate by verskeie universiteite. Jy kan maar na hom luister. En kan hy nie onderhoudend gesels nie?

In dié uiters interessante boek het hy die nuutste navorsing oor die brein gekombineer met sy uitgebreide kennis oor God en die Bybel en ‘n gids saamgestel wat jou as moderne mens sal help, nie net om jou brein beter te verstaan nie maar ook om daardie inligting te gebruik in jou daaglikse lewe. En ook toe te pas in jou verhouding met die Here.

Jou brein het die potensiaal om lewenslank te groei en te ontwikkel. Wat nodig is, is dat ons verstaan hoe ons brein funksioneer, hoe dit multitask en kaarte uit jou verlede gebruik om die hede te evalueer. Jou brein is nie bepaal nie. Jy kan nuwe roetes in jou brein skep wat jou potensiaal verhoog. Wat nodig is, is dat die gelowige gereeld nadink oor die prentjies wat ons van God ronddra en die verhale oor Hom wat ons gebruik om ons verhouding met Hom te begrond. Ons verstaan vandag beter hoe emosies in die brein verwerk word. Wat sê dit vir jou? Watter invloed het groepsdruk op jou, en hoe kan jy kreatiwiteit inspan om jou brein se werking te stimuleer?

Stephan glo dat jou navolging van Christus moet neerslag vind in jou denke en emosies; hoe kan jy dit doen? Hoe kan jy jou operasionele sisteem blootstel aan jou vertroue op God? Want jy is nie ‘n slagoffer van jou brein nie. Jy moet leer om dit reg te gebruik en reg te laat groei. Hoe kan jy dit doen? Hoe kan jy tot eer van Christus dink en leef?

Die boek bespreek ook jou gebruik van taal en die invloed wat dit op jou brein het. Jy verheerlik die Here wanneer jy opbouende taal gebruik maar jy verbeter ook jou breinfunksie. ‘n Laaste saak wat bespreek word, is of elke mens die sogenaamde God-module in die brein het, en of dit beperk is tot sommige mense. Ja, daar is verskille tussen mans en vroue se breins, en jonger en ouer mense. Hoe kan jy met jou unieke brein ‘n goed geleefde lewe beplan wat die Here verheerlik deur onselfsugtige medelye en liefde?

Dit is maar enkele van die vrae wat beantwoord word en wat moderne navorsing reflekteer.

Hier het jy ‘n uitstaande boek wat die wêreld van moderne breinnavorsing met sy opwindende resultate ontsluit vir mense wat belangstel om as gelowige getrou aan die Meester te leef.

‘n Boek waarvan kennis geneem word en wat nog baie bespreking gaan uitlok, en wat ook vir jou baie gaan beteken!


bottom of page