Geloof is nie ’n Walt Disney fliek nie, maar...
top of page

Geloof is nie ’n Walt Disney fliek nie, maar...


Ons geloof werk nie soos die ou Walt Disney flieks, ("and they lived happily ever after") nie. Ons geloof verwyder nie meteens alle probleme op ons pad sodat ons salig op ’n wolk hemel toe sweef nie. Voordat jy my verkeerd hoor: verseker het ons geloof-storie ’n skitterende einde. Omdat ons glo, is ons deel van ’n “never ending story”, Jesus S’n! Nie eens die dood kan ons uit Sy hand ruk nie. Maar aan hierdie kant van die draad dra ons Jesus se dood met ons saam, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 4 skryf. Hier is lyding en teenstand soms ook ons voorland. Maar hiermee saam het ons ook die vaste wete dat niks of niemand ons uit Christus se hand kan ruk nie. Hy is die Goeie Herder wat sy lewe vir ons afgelê het en ons styf vashou, soos wat Hyself sê in Johannes 10:28-30.

Om sinvol te leef te midde van al die onsekerhede en chaos van ons tyd, het ons nodig om elke dag opnuut te emigreer na Jesus se wêreld toe. Verseker leef ons met ons voete stewig hier op moederaarde, maar ons burgerskap is in die hemel, aldus Filippense 3:20-21. Daarom moet ons weet dat ons hier bywoners en vreemdelinge is, soos wat 1 Petrus 1 en 2 verduidelik. Hier mag ons nooit te tuis raak nie. Ons het nie ewige verblyfreg op hierdie stukkende aarde nie. Ons is burgers van God se koninkryk. Nogtans beteken dit nie ons systap die lewe nie. Nee, hier en nou leef ons volgens nuwe beginsels. Ander verhale seëvier in ons midde, dié van Christus. Ons hoor nou van verlore seuns en verlore skape wat gevind word; ons sien hoe vreemdelinge, weeskinders en verstotenes kos en skuilplek kry. Ons lees nuwe hoofopskrifte, Christus S’n, en ons leef volgens die verhale en norme van sy Vader se koninkryk. Daarom dat ons hoop in ons harte het en met vreugde leef!


bottom of page