Word ’n gróót mens
top of page

Word ’n gróót mens


Noudat ek op ’n nuwe manier leef, dink ek ook op ’n nuwe manier oor ander mense en oor Christus. 2 Korintiërs 5:16

Wanneer jou lewe om jouself draai, bly jy ’n piepklein saadjie wat eintlik maar niks noemenswaardig is nie. Wanneer jy jou lewe egter deur die Gees van God leef, is dit asof jou hele lewe in ryk grond val het, jy begin groei, lewe en uiteindelik ‘n boom word waaronder ander skuiling wil soek. Dan leef jy ’n lewe wat ’n verskil maak aan hierdie wêreld en die ewigheid hierna.

As jy dus die moed het om regtig God toe te laat om jou lewe te beheer, dan verander daar ’n klomp dinge:

  • Jou gees verander omdat dit nie meer jy is wat leef nie, maar Christus is wat deur jou leef.

  • Jou gedagtewêreld verander. Jy begin anders dink oor jouself, ander en jou doel op aarde.

  • Jou tyd begin nou anders lyk. Jy het die behoefte om regtig dinge te doen wat ’n wesenlike verskil aan die lewe, sy mense en die koninkryk maak.

  • Jou verhoudings verander in iets groters want jy seën ander deur jou lewe.

  • Jou emosies word anders want jy leer om die liefde in alles te gee … en te ontvang.

Mosterdsaadbome is groot omdat hulle bereid was om aan hulself te sterf. Is jy bereid om Hom ’n kans te gee om jou te omvorm?

My eie pogings om te groei werk nie, Here. Sal U my deur u liefde láát groei asseblief?


bottom of page