So maak mens... soos William Carey!
top of page

So maak mens... soos William Carey!


Hoe kan swak gelowiges enige effek hê in hierdie groot wêreld? Wat kan doodgewone dissipels doen om die wêreld tot eer van God te verander? Dit was die skoenmaker William Carey (1761-1834) se uitdaging. Toe word hy ‘n deeltydse leraar in die Engelse dorpie Leicester om ‘n verskil te probeer maak. Maar sy pyn vir ‘n sterwende wêreld se God-nood het net al hoe sterker geword. Tydens ‘n byeenkoms van godsdiensleiers in Northampton vra Carey toe vir die aanwesiges of dit nie alle gelowiges se roeping is om die wêreld met die goeie nuus van Christus te dien nie. Toe het ‘n bekende kerkleier blykbaar vir Carey geantwoord: “Sit down, young man! If a sovereign God wants to convert the heathen, he doesn’t need you to do it.” Carey het hierdie “raad” geïgnoreer; sy moue opgerol en ‘n sendeling in Indië geword. Daar het hy onder moeilike omstandighede gaan werk. Onder andere het sy een kind binne ‘n paar jaar na sy aankoms in Indië gesterf; ‘n paar jaar later is sy vrou oorlede en die eerste bekeerling onder sy bediening is vermoor. Tog het Carey reuse werk gedoen om die Bybel in ‘n aantal groot Indiese tale te vertaal. Geen wonder nie dat hy vandag as die vader van die moderne sendingwese beskou word.

Wat het hierdie doodgewone skoenmaker-leraar van Engeland aangevuur om die aarde te oorkruis? Drie lewensbelangrike dinge:

  • Hy het kop aan KOP in Jesus vasgeloop.

  • Hy het aan Jesus se voete rus gevind.

  • Hy het saam met Jesus oor die straat gestap.

Carey het nie voor die tyd ‘n glashelder plan vir sy sending in Indië in plek gehad nie. Hy het sy “sending-vliegtuig” in die lug gebou. Al wat hy wel gehad het was ‘n onwrikbare visie van Christus se liefde vir God se verlore eiendom. Dit het soos ‘n vuur in sy binneste gebrand. Carey het slegs die basiese aanwysers vir sy roeping na Indië op die Here se kompas geken; die detail hiervan was onbekend. Gedurende die eerste ses jaar van Carey se moeilike bediening, toe hy ‘n vriend se fabrieke in Midnapore, Indië bestuur het om te oorleef en die Nuwe Testament in Bengalees begin vertaal het, het hy sy sendingstrategieë in plek gekry. Dit het ingesluit hoe plaaslike geloofsgemeenskappe gevorm moes word; hoe hulle finansieel selfversorgend kon wees, en hoe inheemse kerkleiers opgerig moes word. Praat van geloofswaagmoed! Carey het nie gewag totdat hy eers al die hulpmiddels, planne en fondse in plek gehad het nie. Hy het geweet waar die straat was wat hy in geloof moes oorsteek na Indië toe, en dit gedoen! Die res was in die Here se hande. Leer by hom. Doen dit agterna.


bottom of page