Positiewe kommunikasie
top of page

Positiewe kommunikasie


Daar is die grappie van die ou tannie wat by die oom kla omdat hy nooit vir haar sê hy is lief vir haar nie. Antwoord die oom: “ Ek het jou op ons troudag gesê ek is lief vir jou en as dit verander sal ek jou in kennis stel.”

Dit is vir ons almal lekker om ‘n kompliment of positiewe opmerking te kry – te hoor ”Mamma jou kos is baie lekker” of “Die gras is mooi gesny”, “Jy het jou huiswerk mooi gedoen” of “Dankie vir die koppie tee!”

En ons almal weet ook hoe lank ‘n belediging of snedige opmerking ons bybly. Menige volwassenes loop nog vandag rond met wonde van onderwysers en selfs ouers se woorde.

Navorsing van Dr. John Cacioppo aan die Universiteit van Chicago het bewys dat ons brein meer sensitief is vir negatiewe woorde. Hy noem dit ‘n “negativity bias”. Dit is hoekom beledigings of kritiek ons direk en langer beïnvloed en ons dit beter onthou as positiewe opmerkings of woorde.

Dit stem ooreen met die navorsing van dr John Gottman aan die Universiteit van Washington wat gewys het dat die grootste bepalende factor of ‘n huwelik in die skeihof gaan beland, is die verhouding tussen positiewe en negatiewe opmerkings wat paartjies teenoor mekaar maak. 5 Positiewe opmerkings is nodig om elke negatiewe opmerking ongedaan te maak.

Klein gereelde, positiewe inbou in mekaar se lewens het groter waarde as een groot bewys van liefde. Dit is hoekom die grootste diamantring as geskenk vir sy vrou nie kan opmaak vir ‘n man se daaglikse foutvind en skewe aanmerkings nie. Dit is hoekom die duurste speelding of elektronika nie opmaak vir ‘n ouer se gedurige foutvind of kwaai woorde nie.

Om Jesus se liefde uit te leef, ook in my woorde, is dit nodig dat ek weer bewus word van my manier van kommunikeer – is ek te krities en gee te min komplimente? Ek stel myself dan doelbewus in om meer positief te wees, om komplimente te gee eerder as kritiek. Om nie op ander se foute te fokus nie. Dankie te sê. Te sê as iemand my hart bly maak. Om op die uitkyk te wees vir iets positiefs om te kommunikeer.

Ek moet myself instel om elke geleentheid om opbouend te wees, aan te gryp – “Ek sien baie daarna uit om saam met jou te kuier”, “Dankie vir jou spesiale vriendskap”, ens. Ek moet let op my stemtoon en gesigsuitdrukking. En wanneer ek wel moet teregwys onthou ek om die ”toebroodjie metode” te gebruik - ‘n kompliment gevolg deur die teregwysing en weer te eindig met ‘n kompliment.

Efesiërs 4:29 leer ons as ons iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. (Nuwe Lewende Vertaling: “net wat goed en opbouend is vir ander”). Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan. “32 Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees.” (Die Boodskap)

“The love of Christ is the catalyst for our Christian communication with each other in our marriages and indeed in all our relationships and we communicate to the world around us that we are children of our Father.”

Norman Wright


bottom of page