Hoe om jou lewe te verwoes voor jy 16 is: ‘n Wake-up call vir jongmense [resensie]
top of page

Hoe om jou lewe te verwoes voor jy 16 is: ‘n Wake-up call vir jongmense [resensie]


Johan Smith is ‘n bekende onder jongmense: ‘n gewilde spreker asook skrywer van talle boeke wat sy kundigheid oor jongmens-wees illustreer. Hy tree gereeld by jeugweke, jeugsaamtrekke, ouerskapseminare asook Daniël-mannekonferensies op. Hy werk in Moreletapark-gemeente in Pretoria waar hy die Leier: Gemeentefokus is. Dit alles om vir jou te sê: as iemand oor en met jongmense mag praat, is dit Johan!

Die boek is gewy aan 15 maklike keuses wat jongmense kan maak voor hulle klaarmaak met hoërskool en wat gewaarborg is om hulle lewe in ‘n gemors te laat verander. Dit sluit keuses in wat voor die hand liggend is: om dwelms te gebruik (wat ‘n baie groot probleem onder meer bevoorregte tieners is maar nie slegs beperk is tot dié met geld nie), om alkohol te misbruik, om te rook of om jouself bloot te stel aan pornografie. Die skade hiervan is enorm groot.

Maar Johan bespreek ook ander keuses wat jy nie dalk aan sou gedink het nie, en waarvan die gevolge net so ingrypend en deurdringend is: om jou met ander te vergelyk, om hoogmoedig te wees, om grense en dissipline in jou ouerhuis te ignoreer of om jou ouers te ignoreer, om verkeerde vriende te maak en onder groepsdruk te swig, of om aan eetversteurings toe te gee. Dan is daar ook die versoeking wat sommige mense beleef, om hulle self te dood, of om by okkultisme betrokke te raak of tegnologie te misbruik of by voorhuwelikse seks en losbandigheid betrokke te raak.

Feit is: elke jongmens word hiermee gekonfronteer. Jou keuses bepaal wat in jou lewe gaan gebeur, en die gevolge kan nog vir jare jou lewe bepaal.

Die boek is aan die adres van jongmense gerig maar bevat ook veel om oor na te dink vir ouers, onderwysers, kerkjeugwerkers en ander wat met jongmense te doen het.

Veel van die boek handel oor hoe ‘n jongmens na hom- of haarself kyk. Ons selfbeeld bepaal wie ons is en watter keuses ons gaan maak. En daarom is dit so belangrik om te hoor wat die Here vir die jongmens sê, omdat Hy elke jongmens uniek en anders gemaak het en elke jongmens op ‘n eie wyse wil vorm en seën.

Die boekie het reeds ‘n geslag jongmense gehelp; nou word dit weer gepubliseer met die nuutste statistieke en bespreking van die nuutste tendense. En ‘n bonus is ook dat die boek nou besprekingsvrae bevat wat die jongmens uitdaag om op die regte manier die regte besluite te neem.

Geen huis met kinders mag sonder dié boek wees nie. Ouer, jy ken nie die leefwêreld waarin jou kind hom/haar by die skool en ná skool in ‘n vriendekring bevind nie. Rus jou kind toe met dié boek vir daardie wêreld en sy versoekings!


bottom of page