top of page
deur Ashe Steenbok

Eet eerste jou vleis!!!!


Op ‘n stadium het ek klein staal karretjies versamel. Nie die modern ‘remote control’ tipe nie. Nee klein chevs en enige kar wat lyk soos Night Rider sin; maar toe gooi ek die handdoek in. Elke keer as daar kuiergaste vir die dominee kom, dan bring hulle kinders saam en word my motortjies uitgedeel om mee te speel. Dink julle daardie junior kuiergaste het my karretjies terug besorg na hulle so lekker gespeel het. In elk geval; hoekom was daar so baie kuiergaste by ons huis? Daar was gedurig mense wat kom tee drink het en klein vergaderings gehou het. Mense moet predikante ruimte gee! Hoe dikwels breek Jesus weg net om alleen te wees met sy Vader (Luk. 6:12). Party van die gemeente lede het sommer net kom inloer as hulle verby loop. Ja! natuurlik was daar mense wat ons boys altyd ‘gelaaik’ het as hulle kom kuier veral omdat hulle dogters gehad het en daardie gemeentelede wat diep in ons harte geklim het. Daarom moes die huis altyd aan die kant wees en kinders word dan gesien en nie gehoor nie. Selfs na erediens op ‘n Sondag het daar altyd mense kom inloer en tee drink en vandaar die vleis insident.

Dié Sondag was daar ‘n gas prediker wat my pa genooi het; dié bring toe sy hele huisgesin saam. Na die erediens word daar tee gedrink by die pastorie (seker omdat die pastorie langs die kerk is). Die ding destyds dat die pastorie langs die kerk was of oorkant die kerk was, was ‘n lelike ding! Ek wonder hoe kon my pa ooit afskakel as hy elke dag in sy werksgebou staar, maar selfs die konsep van pastorie…. Gemeentes het destyds gesê dit bespaar hulle, maar die arme afgetrede dominee moet ‘n huis gaan koop na sy aftrede want hy’t nooit die kans gehad om sy eie huis te besit nie.

Terug na die vleis-insident. Terwyl die grootmense gesels raak dit al hoe later en ons is honger. My ma skep toe op en vandaar hoor sy uit die voorhuis dat sy moet opskep vir die gaste. Daardie dag moes ek my vleis afstaan vir kuiergaste. En die les hierin-as daar opgeskep word in die pastorie eet eerste jou vleis!


bottom of page