Die rigting wat jy loop
top of page

Die rigting wat jy loop


Toe die farao sien dat die storm oor is, het hy maar net voortgegaan met sy sonde ... Eksodus 9:34

Vanjaar gaan ek gewig verloor en gesond leef”, is blykbaar die mees populêre nuwejaarsvoorneme. En waarskynlik ook die een enkele voorneme wat die gouste gebreek word. Want ai!, dit bly maar moeilik om die eet-reg-oefen-baie-ding te doen!

Die waarheid is dat voornemens nie jou eindbestemming bepaal nie. Jou rigting bepaal waar jy gaan uitkom. As jy wel by die voorneme van gesond-leef hou, sál jy gewig verloor en wel ‘n beter kwaliteit lewe kan hê. Want die regte rigting bring jou by die regte plek in jou lewe.

Watter rigting loop jy op die oomblik in terme van jou gesondheid, jou verhoudingslewe, jou huwelik en verhouding met jou kinders, jou finansies en jou werk. Dink jy jy beweeg op al hierdie terreine in die regte rigting, die een wat God vir jou beplan het ... die een wat jou by die ideale eindbestemming gaan uitbring? Of het dit dalk tyd geword om op een van hierdie terreine ernstig van rigting te verander? Het dit dalk tyd geword om radikale veranderinge in jou lewe aan te bring of dalk net ietwat van koers te verander?

Wanneer jy besef dat jy iewers in jou lewe van koers af is, is dit dalk die Gees wat jou onrustig maak juis omdat God vir jou iets beters beplan. Wil jy Hom nie maar volg nie?

Gees van God, ek wil hoor wat U sê en volg waar U lei. Help my asseblief.


bottom of page