Transit to Heaven [resensie]
top of page

Transit to Heaven [resensie]


Alma Ali was ‘n getroue, toegewyde Moslem. Sy het in ‘n huis groot geword waar die Moslemgodsdiens aangehang en geleer is. Daar was nie ‘n ander wêreld vir haar nie.

Totdat sy elke keer met die openbaring van die Here Jesus gekonfronteer word – in die Bybel, deur profesieë, in drome en met hemelse tekens. En dan word sy deur ‘n Christen uitgedaag om vir sewe dae lank te vas en te bid. Dié ervaring verander haar lewe sodat sy vas oortuig is van die openbaring van Jesus Christus as die Seun van God. Sy kom ook onder die oortuiging dat dit die regte ding is om te doen om haar te laat doop.

Sy kry teenstand en opposisie van haar familie. En tog hou sy vas aan die nuwe geloof wat nou haar lewe bepaal.

Sy skryf haar boek sodat mense wat belang stel hoekom ‘n Moslemvrou haar tot die Christengeloof bekeer, kan hoor wat met haar gebeur het.

Die boek is in outobiografiese styl en is eerlik geskryf. Salma vertel van haar lewe op die eiland Zanzibar waar sy gebore is, haar agtergrond en opvoeding, haar lewe as enkelouer en toegewyde Moslem in die Moslemwêreld en hoe sy na die Verenigde Koninkryk gaan waar sy weer trou. Hier kom sy tot bekering en laat haar doop.

Die interessante in haar verhaal vir my is die manier waarop sy ‘n joernaal hou van die unieke pad wat die Here met haar loop. Dit is ‘n pad waar sy met groot erns en geloof op die Here wag om Homself te openbaar, en sy is nie teleurgestel nie.

Haar verhaal gryp aan die hart omdat sy ten spyte van vervolging en verwerping getrou bly aan die Een wat sy eerstehands leer ken het. Sy ken Allah uit die Koran, maar sy leer Jesus Christus as Vriend en Saligmaker ken, en dit verander haar lewe.

Die boek lees vinnig en maklik en hou ‘n mens se gedagte vas omdat die verhaal vinnig afspeel. ‘n Heerlike boek om jouself of iemand mee te bederf, en terselfdertyd jou geloof te bou!


bottom of page