top of page
Writer's pictureMarietjie Joubert

Jy mag maar delegeer


Eksodus 18:18

Kyk, as daar nou een ding is wat vrouens goed kan doen, is dit om alles te doen. As manlief of die kinders nie vinnig genoeg iets doen wat ons vra nie, dan spring ons in en doen dit sommer vining self. Ek dink ons gesinslede weet ons doen dit en is daarom soms traag om te begin, want hulle weet ma sal dit vinniger doen. Die probleem is ons kan onvergenoegd raak in ons omstandighede omdat ons alles self moet doen, terwyl ons eintlik verantwoordelik is vir ons omstandighede.

Moses en die Israeliete is op trek. Natuurlik breek daar rusies uit, goed raak weg, mans en vrouens baklei ens. Almal wil regspraak hê of soek raad vir hulle probleem. Moses moes van die oggend vroeg tot laat na almal se probleme luister. Die volk het gesoek na Moses en die wysheid van God.

Jetro, sy skoonpa besoek hom en sien dat Moses totaal uitgeput en moedeloos is met al die probleme wat hy alleen moet hanteer. Hy spreek hom aan en sê hy kan nie alleen al die werk doen nie, hy sal totaal uitgeput raak. Hy besef ook dat al die werk te veel is vir Moses. Wat ‘n wyse man. Hy sien dadelik die probleem raak en gee goeie raad vir Moses. Ons lees dat Moses na sy skoonpa geluister het en gedoen het wat hy voorgestel het. (Vers 24).

Soms sit jy met hierdie magdom werk. Dalk is jy in ‘n bestuursposisie en weet nie watter kant toe nie. Jy hoef nie alles self te doen nie. Jy mag mense kry om jou te help. Moenie dat jou werk jou verswelg en jy nie verder wil of kan nie. Vra om hulp. Jy is nie ‘n swakkeling nie, jy sal meer wys wees deur hulp te vra, as om nie jou werk klaar te kry nie. Stel betroubare mense aan om jou te help. Stel mense aan wat integriteit het en gedryf word deur hulle waarde sisteem. Volg Moses se voorbeeld en kry verligting.

Gebed

Here, U ken my omstandighede. Ek het hulp nodig!

Amen


bottom of page