Die woord in kleur [resensie]
top of page

Die woord in kleur [resensie]


Ek woon gister ‘n universiteitsvergadering by waar doserende personeel oor verskeie belangrike sake gesels. In die loop van die gesprek draai dit by die stres waaronder personeel verkeer. Een van die prominente vroulike akademici maak toe die opmerking: Menere, ek weet nie wat om vir julle te sê nie maar ek kan vir my vroulike kollegas uitstekende raad gee. Vandat ek die geheim ontdek het om Bybeltekste in te kleur, het my lewe verander. Buiten dat ek ‘n teks deeglik oordink terwyl ek dit inkleur en die teks dikwels met my gebeur, verstom ek my elke keer ook hoeveel dit my help ontspan. Dit is asof ek ‘n minivakansie hou terwyl ek vyftien of twintig minute met inkleurpotlode sit en skep.

Nou ja, wie sou nou kon dink dat grootmense sal sit en inkleur soos ons kleingoed besig gehou het wanneer dit buite reën? En dat inkleurboeke vir grootmense die wêreld soos ‘n tsoenami sou tref? En vir my vroulike kollega het ons ook nuus: mans kleur ewe lekker in aan die Bybelse inkleurboeke wat beskikbaar is.

CUM as uitgewer was slim genoeg om die voordele van inkleurboeke vir grootmense te snap en het ‘n Nuwe Lewende Vertaling-inkleurBybel gepubliseer, asook verskeie boeke wat in die behoefte voorsien.

En in Die Woord in kleur het jy nou weer ‘n pragboek met 50 unieke ontwerpe, gekoppel aan spesifieke tekste. Die tekening en die teks hou met mekaar verband. En jy kleur ook dele van die teks in.

“Alles wat ons ontvang wat mooi en volmaak is, kom van die Vader. Jakobus 1:17” word ‘n pragtige skepping van unieke kleur wat dit uitstekend daartoe verleen om uitgeknip te word en geraam te word. Die papier is van so ‘n gehalte dat jou kunswerk vir baie lank gaan diens doen. En dit vorm ook ‘n uitstekende geskenk.

Die bladsye is geperforeer om maklik uitgeskeur te word. En daar is ook etikette wat jy inkleur en op geskenke kan plak, kaartjies wat jy kan gebruik en boekmerke wat alles onder jou unieke skeppende hand deurloop.

Jy geniet rus en vrede en kalmte terwyl jy tyd met die Woord spandeer, en jy seën ander mense wanneer jy die boek se bladsye gebruik as geskenke.

Die Woord in kleur is ‘n pragproduksie en die nut daarvan gaan in ure se ontspanning en opbouing lê, asook in die seën wat dit bring wanneer jy dit aan ander gee.


bottom of page