Ons is nie soos koffiemasjiene nie
top of page

Ons is nie soos koffiemasjiene nie


My koffiemasjien is betroubaar. As ek die regte knoppies druk, maal dit die koffiebone en lewer dit soos klokslag ’n afgemete hoeveelheid koffie op. Ons werk nie soos koffiemasjiene nie. Ons kan nie met dieselfde reëlmaat en voorspelbaarheid resultate oplewer soos wat sulke masjiene dit doen nie. Daarom help dit nie om mekaar soos masjiene te probeer hanteer nie. Die Here het ons elkeen gemaak om op unieke maniere te dink, te voel en op te tree. As ons nie leer om ander mense se uniekheid te respekteer nie, gaan ons altyd met mekaar teleurgesteld wees. Iewers gaan mense nie optree soos wat ons van hulle verwag nie. Ook gaan onsself nie altyd opleef aan ander se verwagtings of opinies nie. Die rede is eenvoudig: die Here het ons nie soos masjiene gemaak nie. Ons is mense. Ons elkeen se roeping is om die beste onsself te wees soos wat God ons gemaak het. Ons moet heel eerste opleef aan die Here se verwagtings van ons. Ons moet Hom verheerlik. Ons betroubaarheid word bepaal deur ons gehoorsaamheid en toewyding aan Hom, nie aan die voorspelbare maniere waarop ons leef en reageer tussen ander nie. Ons is nie masjiene nie.


bottom of page