top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

2.5 miljoen geleenthede


Liezel Lüneburg skryf in haar nuwe My Lewe oor die 2.5 miljoen geleenthede in Suid Afrika
2.5 miljoen geleenthede

Hongerte is ’n gevoel, wat ek goed ken: ’n Maag wat luid protesteer, hongerpyne en dan gevoelens van lighoofdigheid, naarheid en bewerasie. Gelukkig kreun die yskas, spensrakke en vrugtebakke onder die kos.


Daar is egter ’n gevoel, wat ek, dank die Vader, glad nie ken nie: Om permanent dood van die honger toe te kyk hoe my kinders huil, omdat daar nie kos in die huis is nie.


Volgens die “General Household Survey” ly 2.5 miljoen Suid-Afrikaners elke liewe dag honger. Mark Heywood skryf in Daily Maverick: “The worst thing is that we, the well-fed, have let this [pandemic hunger] happen. We may think we are moral beings, but how objectively do we measure our morality? Is it by how you treat your friends and family, or by how you treat those you don’t know? Is it by how you treat those who share the same house or by how you treat those who share the same Constitution and landscape as you; those who see the same sunset every night but associate it differentially with the prospect of a good supper and sleep, or another night of hunger-induced stomach aches?”


Hy gaan verder deur te sê dat die hongersnood in Suid-Afrika nie God se wil is nie. Dit is ook nie as gevolg van ’n tekort aan kos nie, maar eerder die gevolg van “a structural violence of the food system against the poor”. Die feit dat geen bloed vergiet word, geen wonde sigbaar is nie en dat die skade aan die binnekant van die liggaam en verstand plaasvind, verminder nie hierdie intrinsieke geweld nie. “If we could turn ourselves inside out, if we could wear our hunger as bruises, we might understand the scale of what we are doing to one another.”


My vraag is nou wat ons as kinders van die enigste lewende God doen om die “geweld”, waarna Heywood verwys, te keer. Reageer ons met ’n optrek van die skouers? Bid ons sonder om daadwerklike aksie te neem? Lê ons maar te vinnig die probleem voor die regering se deur? Of verklaar ons dat dit nou so sleg in Suid-Afrika gaan dat hier nie meer geleenthede is nie?


Mense verkondig baie vinnig dat daar nie geleenthede in Suid-Afrika is nie, maar dit hang seker af van die bril, waardeur jy kyk. Ons land bied elke dag 2.5 miljoen geleenthede om ’n verskil in ander se pyn en lyding te maak! Die lewe is nie rooskleurig nie en alle mense, ryk én arm, ervaar daagliks die een of ander vorm van pyn en lyding. My opdrag is om ander se pyn en lyding, ten spyte van my eie pyn en lyding, te verlig, om Christus se duidelike, spesifieke opdrag uit te voer so lank as wat ek kan.


Dissipels: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek.”


Jesus Christus: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”


En die res is geskiedenis...

Commentaires


bottom of page