• Liezel Lüneburg

ʼn Boodskap aan moedelose moeders


Opvoeder en dissiplineerder, kok, taxibestuurder, versorger, sieketrooster, dokter en verpleegster, kreatiewe ontwerper van skooltake, toespraakskrywer, helper met huiswerk, geestelike ondersteuner en biegmoeder, bewaarder van goeie sedes, bidder en, in baie gevalle, broodwinner. Blykbaar gaan ’n ma, wat twee seuns grootgemaak het, reguit hemel toe en in die geval van enigiets meer as twee, gaan die bure aan alkante saam. Ek sou wel “seuns” met “kinders” vervang, want om ʼn dogter groot te maak, is geensins maklik nie.


Om ’n ma te wees, is beslis moeilik. Dis dalk vir sommiges makliker as vir ander, maar vir die meeste uiters moeilik. Dink maar aan enkelmoeders, vrouens wat veels te vroeg die skoene van ʼn ma moet volstaan, die wat nie eie vervoer het nie en kilometers ver met ʼn kleintjie op die rug moet loop, verarmde ma’s, wat nie seker is waar hul kinders se volgende maaltyd vandaan gaan kom nie, vrouens wat voldag moet werk vir die minimum loon en min tyd saam met hul kinders spandeer en vrouens wat afgeknou word maar steeds die rol van moeder moet vervul. Suid-Afrika is met hierdie vroue besaai, ma’s wat ʼn groot gedeelte van hul tyd op moedverloor se vlakte spandeer.


Boonop stel Spreuke 31 ’n moeilike, moedelose standaard: Die ideale vrou is een met ʼn sterk karakter, groot wysheid, baie talente, en, om die kersie op die netjiese koek te sit, medelye. Sy is nie net ’n goeie vrou en ma nie, maar ook ’n vervaardiger, invoerder, bestuurder, grondbesitter, boer, kleremaker, stoffeerder en handelaar - dit alles terwyl haar man sy tyd by die stadspoorte verwyl. Hierdie perfekte beeld help nie eintlik die moderne, besige vrou om beter oor haarself en haar selfopgelegde tekortkominge te voel nie.


Gevoelens van ontoereikendheid is deel van elke ma se hart. Alhoewel moeders bewus is van die negatiewe gevolge van sulke destruktiewe idees, bly dit maar altyd aan die hartwande klou, daar waar dit die heel ongemaklikste en seerste is. Daarmee saam steek gevoelens van selfverwyt en hopeloosheid kop uit. Vrae oor waar ek nou eintlik in die ingewikkelde opvoedingsproses gefaal het, want min ma’s kan glo dat hulle nie iewers in die verlede verkeerd opgetree het en definitief op verskeie oomblikke in die toekoms weer gaan fouteer nie.


Ma’s het wonderlike aspirasies vir hul kinders en glo nog tot op die laaste nippertjie dat hulle bloedjies ’n reusesukses van enigiets denkbaar gaan maak. Maar min het hoop vir hulself. Min koester toekomsdrome en fantasieë. Hoeveel ma’s verloor hulself in die warboel van kinders grootmaak? Hoeveel ma’s vergeet om getroud te wees? Hoeveel ma’s geniet nog hul huwelik en al die wonderlikhede wat daarmee saamgaan? Hoeveel ma’s bid regtig vir hulself voor hulle die kinders by die Vader se voete lê? En, terwyl ons by die onderwerp van gebed is, hoeveel van hulle bid vir hul huwelik en man en die eenheid wat God so wonderbaarlik gesmee het?


Moenie uit moedeloosheid ophou en nalaat om Spreuke 31 tot aan die einde te lees nie. Vers 30 is geil van beloftes: Uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om geprys te word. Dán verdien ’n vrou om geprys te word. As sy die Here dien.


Liewe Ma, gaan na jou binnekamer en maak die deur styf toe. Gebruik selfs die sleutel as dit moet. Die kinders sal okei wees. Gaan kniel op die vloer, met jou gesig na onder en jou hande na bo. Bid tot die groot Moeder, ons Hemelse Vader. Stort al die verwyt, die hopeloosheid en die bekommernis, die hartseer en die gevoelens van ontoereikendheid en tekortkominge voor Hom uit. Hy weet wat om daarmee te maak. Bid dan eerste vir jouself, tweede vir jou man en jou huwelik. En dan, as jou hart skoon en vars is, lê jy jou geskenke voor sy Vadervoete neer. Onthou ook om vir ander ma’s in krisis te bid. Hy sal presies weet wat om met jou kosbare gebed te maak.


AMEN.