Kom haal vandag se porsie brood vandág
- Stephan Joubert
- May 9
- 2 min read
Teks: Klaagliedere 3:22
Brood bly nie vir lank vars nie. Dit moet betyds geëet word, anders raak dit oud. Dit raak hard en muwwerig en uiteindelik ook oneetbaar. Dieselfde geld vir God se goeie gawes. Jesus leer ons in die Ons Vader om elke dag te bid vir ons porsie daaglikse brood uit God se hand. Hemelse gawes word dikwels net een dag op ‘n slag afgelewer. Dan is dit “use it or lose it.” Gebruik dit, of verloor dit. Moenie God se gawes vir vandag laat oorstaan tot môre nie. Of tot oormôre nie. Dan is dit net dalk te laat.
Van vandag se brood gepraat: God se goedheid is heel eerste ook vir vandag bedoel, nie slegs vir een of ander groot môre, wat anderkant die horison op ons wag nie. Elke porsie van vandag se hemelse brood moet vandág geëet word. Dit is nie bedoel om opgegaar te word nie. Vandag is God se trou vars en nuut, soos wat Klaagliedere 3:21-22 ons verseker. Vandag word ons ook innerlik deur die Gees vernuwe, soos wat 2 Korintiërs 4:16 ons meedeel. Ons moet hierdie waarhede in geloof ons eie maak. Ons bekommer onsself te veel kere stokflou oor die dag van môre. Ons wonder gedurig of God daar sal opdaag. Ons vra benoud of daar ‘n toekoms op ons wag. Intussen deel God getrou nuwe hemelse brood uit op elke dag, wat die naam vandag dra. Ons moet maar net afbuk en vandag se porsie optel, dit opeet en leef!
Gebed: Dankie vir vandag se brood. Dankie, Heer, dat U vandag oorgenoeg vir my gegee het om van te leef en om tot u eer te leef!
Comments